memoriseer jou werk makliker

Wenke om beter te memoriseer

Aktiewe leer

Memorisering is baie belangrik wanneer jy leer. As jy verkeerd memoriseer, gaan jy jou werk vergeet wanneer jy toets skryf. Om goed te kan memoriseer, moet jy AKTIEWE LEER toepas.

Wat is aktiewe leer?

Aktiewe leer is wanneer jy jou geheue aktief stimuleer om inligting te onthou.

In plaas daarvan om groot hoeveelhede werk te memoriseer, vat jy kort stukkies inligting en gebruik aktiewe leer om dit te herroep. Hier is 10 maniere hoe jy aktiewe leer kan toepas wanneer jy jou werk vir die eksamen memoriseer.

1. Toets jouself voor jy begin leer

Werk toetsies en vraestelle uit voor jy begin leer. So kan jy bepaal waaraan jy ekstra aandag moet gee, en wat jy al klaar redelik goed ken.

Dit help ook jou brein om die leerstof wat jy diep gebêre het, weer op te roep.

2. Stop en herhaal

Hoe hardloop mens ‘n marathon? Tree vir tree. Dink aan jou leerwerk as ‘n marathon. Jy moet dit stukkie vir stukkie herhaal sodat jy werk kan onthou.

In plaas daarvan om groot hoeveelhede inligting op een slag te probeer onthou, deel eerder jou werk op in klein deeltjies. Lees ‘n bladsy (of ‘n paragraaf) hardop, maak jou boek toe, en probeer dit wat jy geleer het, verduidelik sonder om in jou boek te kyk. Herhaal die proses totdat jy die werk kan verduidelik sonder om te sukkel.

3. Dink aan vrae terwyl die onderwyser praat

Terwyl jy vir die onderwyser luister, probeer dit wat hy sê, om te skakel in vrae. As jou onderwyser byvoorbeeld oor die tweede wêreldoorlog praat, vra vir jouself vrae, soos wanneer het die oorlog begin, hoekom het dit begin en meer.

Leer om te dink in vrae sodat jou brein kan leer om inligting te stoor en te herroep in ‘n formaat soos wat ‘n vraestel sal wees.

4. Hersien dadelik jou werk

Probeer elke dag die werk wat jy in die klas gedoen het, hersien. Doen jou opsommings, en sodra jy klaar daarmee is, probeer soveel as moontlik van die werk wat jy opgesom het, onthou. Verduidelik die werk hardop vir jouself.

As jy nie elke dag tyd het nie, probeer oor ‘n naweek tyd maak.

5. Gebruik “mind maps”

Dit is belangrik dat jy jou werk opsom, want dit is deel van jou leer proses. Die beste opsom metode vir leervakke, is breinkaarte of “mind maps”. Daar is verskillende tipes breinkaarte wat jy kan gebruik. As jy ons studiemetodes werkswinkel bywoon, leer ons jou al die verskillende metodes. Wanneer die eksamen begin, moet jou opsommings reeds klaar wees.

Om in te skryf vir ons studiemetodes werkswinkel, stuur n email na info@studiemetodes.co.za.

6. Wees n onderwyser

Wanneer dit eksamen tyd is, lees jou breinkaart ‘n paar keer hardop deur. Sit dit dan eenkant, en verduidelik die werk vir jouself hardop, net soos wat ‘n onderwyser vir ‘n klas sal verduidelik. Gebruik ‘n witbord om belangrike punte neer te skryf. Herhaal die proses oor en oor totdat jy jou werk kan onthou.

7. Gebruik flitskaarte

Vir wiskunde, tale en definisies, moet jy flitskaarte maak. Loop rond en leer jou flitskaarte hardop. Probeer dit wat op jou flitskaarte staan, uit jou kop uit onthou.

As jy wil weet hoe om flitskaarte te maak, woon een van ons studiemetodes werkswinkels by.

8. Doen oefeninge en vrae in jou handboek

Dit is belangrik dat jy soveel as moontlik vrae antwoord en soveel as moontlik oefeninge uit jou handboek doen om jou werk te memoriseer. Dit leer jou brein om dit wat jy geleer het, in ‘n vraag te kan herken en in ‘n antwoord formaat te kan weergee.

9. Skep jou eie eksamen

Om jouself gewoond te maak aan die eksamen atmosfeer, kan jy jou eie eksamen skep. Dit doen jy deur die volgende:

  • Kry ‘n oefenvraestel en gee jouself soveel tyd om die vrae te antwoord soos wat daar in die vraestel aan leerders gegee word;
  • Moenie rus, eet of badkamer toe gaan nie. Maak asof jy in die eksamen lokaal is;
  • Werk in ‘n stil vertrek waar niemand met jou sal praat nie.

Wanneer jy klaar is, gaan weer deur die vraestel. Kyk waar het jy gesukkel en wat jy nog moet leer voor die werklike eksamen begin.

Onthou

As jy jou werk aktief leer, sal jy dit makliker onthou. Moenie net deur jou handboek lees voor ‘n toets nie. Gebruik die aktiewe leer tegnieke.

Het jy hulp nodig met studiemetodes? Kontak ons by info@studiemetodes.co.za om ‘n afspraak te maak vir ‘n studiemetodes werkswinkel.

Shopping cart

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping