faceless female student writing in notebook during lesson

5 Dinge Wat Ek Op Skool Anders Sou Doen As Ek My Leerstyl Geken Het

Of dit nou in die kerk, in die klas of voor die boeke was, ek kon nooit stil sit nie.  Iets moes altyd beweeg.  Menige maal was ek in die moeilikheid omdat ek myself net nie so ver kon kry om nie te beweeg nie.  Of dit my been was wat op en af gehop het en die hele tydelike klas se vloer laat vibreer het, my stoel wat ek holrug gery het tot almal se frustrasie, of my pen en liniaal waarmee ek aanhoudend gespeel het, beweeg moes ek beweeg.

Leertyd was ’n uitdaging.  Natuurlik moes ek stil sit by my tafel en leer, maar dit was heeltemal te veel gevra.  Eers was ek op die stoel, dan langs dit, dan op die tafel, dan onder die tafel, so het dit aangegaan.  Klasse wat stilsit en baie konsentrasie geverg het, soos wiskunde, was amper ’n onmoontlike taak.  Om doodstil te sit en luister hoe die onderwyser die stappe verduidelik het nie vir my gewerk nie.  Voeg nog daarby my ADHD-I en dit was ’n uiters frustrerende situasie.  Vandag dink ek terug daaraan en wens ek en my ouers het destyds geweet en verstaan wat ’n kinetiese leerder is.  Hier is ’n paar dinge wat ek anders sou doen as ek destyds geweet het wat my leerstyl was.

1. Doen in plaas van luister

Kinetiese leerders is doeners.  Hoe meer die werk prakties ingeoefen word, hoe beter en makliker gaan jy onthou.  Wiskunde sou baie makliker gewees het as ek flitskaarte gemaak het van die stappe, dit gememoriseer het terwyl ek rondbeweeg het en dan vraestelle geoefen het totdat ek dit reggekry het. Vir wetenskap sou ek eksperimente doen en vir biologie die sketse op ’n witbord oor en oor geteken het.

Sou ek ’n ouditiewe leerder wees, sou ek beter daarby gebaat het om in die klas op te let en te LUISTER hoe die onderwyser die stappe verduidelik het.  Ek sou dan later die stappe vir myself hardop verduidelik het.  Vir die visuele leerstyl sou ek diagramme maak van al die stappe en metodes en dit op ’n plek sit waar ek dit deurentyd kon sien. 

 2. Leer in korter sessies

Om een of ander rede voel mens jy bereik baie wanneer jy vir ure aanmekaar leer. Jy voel jy het baie tyd ingesit en “ordentelik” geleer.  As kinetiese leerder was dit ’n groot fout.  As ek eerder in korter sessies geleer het en tussenin breuke gevat het waartydens ek aktief was, sou ek baie meer effektief geleer het.  Ek sou 30-45 minute aanmekaar geleer het en dan ’n breuk gevat het.  Wat ek definitief sou doen was om vir 10-15 minute op die trampoline te spring, fiets te ry of met die hond te speel voor ek weer terug voor die boeke sou inskuif.

As ek ’n ouditiewe leerder was sou ek 45 minute aanmekaar geleer het, maar in daardie tyd sou ek alles hardop doen en verduidelik.  Ek sou na opnames, videos of podcasts geluister het as ek byvoorbeeld Geskiedenis geleer het.  In my 15 minute breuk sou ek rustig buite gaan stap het of gesels het met my ouers. Vir die visuele leerstyl sou ek ook nie langer as 45 minute aanmekaar geleer het sonder om ’n breuk te vat nie. 

3. Leer in ’n studiegroep

Kinetiese leerders floreer in studiegroepe waar hulle die werk vir mekaar kan verduidelik.  Ek sou vraag en antwoord flitskaarte maak en elke vraag en antwoord met my studiegroep bespreek.  As ek ’n ouditiewe leerder was sou ek verkieslik op my eie leer, maar hardop.  As visuele leerder sou ek eerder fokus daarop om my diagramme en notas op my eie te leer.  

4. Flitskaarte as leerhulpmiddel

Flitskaarte is ’n uitstekende leerhulpmiddel vir kinetiese leerders omdat dit maklik en vinnig is om te maak en omdat jy kan rondloop en beweeg wanneer jy dit memoriseer.  Ek sou fokus op vraag en antwoord flitskaarte wat ek hardop kon leer en vir myself of my studiegroep kon verduidelik. 

Alhoewel al die leerstyle flitksaarte kan en moet gebruik sou ek as ouditiewe leerder meer fokus daarop om myself op te neem waar ek deur die flitskaarte lees.  Ek sou dan daarna luister wanneer ek gym of in die kar ry.

As visuale leerder sou flitskaarte ook baie handig wees mits dit kleurvol was en prente ingesluit het.  Diagramme, breinkaarte en notas is meer ideaal vir visuele leerders omdat hulle dit kan opplak teen hul kas of muur waar hulle dit gedurig kan sien. 

5. Opsommings

Skryf is ook beweging en daarom ’n handige aktiwiteit vir kinetiese leerders.  In plaas daarvan om net uit die handboek te leer sou ek kleurvolle opsommings maak.  Weens my ADHD-I en die feit dat ek ’n kinetiese leerder is sou tradisionele “mind maps” egter glad nie vir my werk nie.  Ek sou kleurvolle opsommings maak op ’n meer logiese manier wat puntsgewys van bo tot onder geloop het.  Gedurende eksamen tyd sou ek rondloop in my kamer en my opsommings hardop herhaal.

As ouditiewe leerder sou ek steeds opsommings maak, maar myself opneem terwyl ek deur dit lees.  Ek sou ook “juffrou-juffrou” speel en die werk hardop vir my denkbeeldige klas verduidelik gedurende eksamen tyd.

Indien my leerstyl visueel was, sou ek “mind-maps” gemaak het met verskillende kleurskemas en prente.  Ek sou daardie opsommings dan opplak waar ek dit gereeld sien.  Gedurende eksamen tyd sou ek die werk hardop herhaal en die prente op ’n witbord oorteken terwyl ek die werk verduidelik.  


Om jou leerstyl te ken en te weet hoe om dit toe te pas kan jou lewe verander.  Of jy ’n kind is wat reg wil studeer, ’n ouer wat sy kind wil help om makliker en beter te leer of ’n besigheidspersoon is wat meer produktief wil wees, jou leerstyl maak saak!

Wil jy weet wat jou leerstyl is?  Voltooi ons aanlyn leerstyl vraelys.  Jy gaan nie ’n oomblik spyt wees nie. Kliek op “Add To Cart” om jou leerstyl vraelys te boek.

Shopping basket

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping