african american girl studying math at home

Hoekom moet ek my maaltafels ken?

Verbeel jou wiskunde is ’n kasteel.  Die kasteel het pilare en ’n fondament nodig om te kan staan, anders sal dit nie stewig wees nie en omval.  Maaltafels is soos die fondament of pilaar wat die wiskunde kasteel laat regop staan.  Om wiskunde te kan doen, moet jy jou maaltafels gebruik.  

Of dink aan maaltafels as die “charger” en wiskunde as jou foon.  Jou foon gaan nie werk as hy nie gelaai het nie.  Dit is nutteloos sonder ’n “charger”.  Net so is wiskunde nutteloos sonder jou tafels. 

aerial photo of white castle with green leafed tree under white cloudy sky
Photo by Jonathan Goerke on Pexels.com
closed up photography of two iphones
Photo by Steve Johnson on Pexels.com

Grondslag van Wiskunde

Om te kan lees en skryf, moes ons op een of ander tyd in ons lewe die alfabet leer.  Sonder die kennis van die alfabet gaan jy doodeenvoudig nie kan lees nie.  Maaltafels is vir wiskunde soos die alfabet vir lees.  Dit is baie belangrik en jy kan nie die een doen sonder die ander nie.  Om wiskunde te kan verstaan en begryp, moet jy jou maaltafels ken. 

Gaan ek ooit maaltafels gebruik buite die wiskunde klas?

Die nut van maaltafels strek verder as die klaskamer, en mens gebruik dit eintlik baie in jou alledaagse lewe. Hier is ‘n paar voorbeelde van hoe jy maaltafels elke dag gebruik.  

Jou sakgeld

Toe ek ’n kind was, het ek elke maand ’n sekere hoeveelheid sakgeld gekry.  Die enigste tyd wanneer my ouers vir my speelgoed gekoop het, was op my verjaardag en kersfees.  As ek enige ander tyd ’n speelding wou hê, moes ek dit met my sakgeld koop.  Ek was mal oor Lego en wanneer ek ’n Lego stel gesien het waarvan ek hou, moes ek uitwerk hoeveel maande ek moes spaar om dit te kon koop.  Om dit te kon uitwerk, moes ek my maal- en deeltafels gebruik.  Dan het ek presies geweer wanneer ek dit kon gaan koop.  

Deel van lekkergoed

As jou ma ’n pakkie lekkergoed koop, wil jy gewoonlik nie hê jou broer en suster moet meer as jy kry nie.  Dis mos normaal? Wat doen jy in so geval?  Jy gebruik jou tafels.  Daar is 27 lekkers in die pakkie en julle is 3 kinders, hoeveel gaan elke kind kry?  As jy jou tafels ken, sal jy dadelik weet dat julle elkeen 9 lekkers kan kry. 

Sport en speletjies

Hoe weet ons watter rugby span het gewen?  Of watter krieketspeler het die beste gevaar?  Ons gebruik tafels.  As die Springbokke 3 drieë gedruk het, het hulle ten minste 21 punte (as hulle elke keer oorgeskop het), want 7 x 3 =  21.  As Cheslin Kolbe 2 drieë gedruk het, hoeveel punte het hy bygedra? (5 x 2 = 10)

Tydsbeplanning

Een van die belangrikste dinge wat jy in die lewe moet weet is hoe om jou tyd te beplan.  Hoeveel tyd het jy om huiswerk te doen voor jy gaan bad?  Hoeveel bladsye moet jy leer vir die toets? Hoeveel rondtes Fortnite kan jy speel voordat jy moet gaan slaap?  Byvoorbeeld as jy 8 uur moet gaan slaap, en jy begin 6 uur speel, het jy 2 ure.  En as elke rondte jou 10 minute vat, hoeveel rondtes gaan jy in 120 minute (of 2 ure) speel?  120 ÷ 10 = 12.  Jy gaan dus 12 rondtes kan speel voordat jy moet gaan slaap. 

a person holding a game console
Photo by Erik Mclean on Pexels.com

Soos jy sien gebruik ons tafels baie meer as wat ons dink.  En jy gaan dit vir die res van jou lewe gebruik. 

Hoekom is dit belangrik om my tafels te ken?

Spoed en Doeltreffendheid

Om jou tafels te ken help jou om vinnig en slim te dink.  Jy gaan nie tyd mors in wiskunde toetse nie, want jy kan vinnig die som uitwerk. 

Selfvertroue 

Wanneer jy jou tafels ken, voel jy sommer slim.  As iemand jou vra wat is 9×8 of 7×6 en jy kan dadelik antwoord, voel jy goed oor jouself.  In wiskunde is selfvertroue baie belangrik. 

Leer om slim te dink

Wanneer jy jou tafels ken leer jy hoe om anders te dink.  Jy leer hoe om probleme op te los en om feite te onthou.  Jy leer logies dink en om dinge uit ’n ander perspektief te sien. 

Jy gaan altyd, vir die res van jou lewe, jou tafels gebruik.  In die winkel, by die huis, by jou werk, op die sportveld, maak nie saak waar nie.  Jy gaan jou tafels nodig hê.  Dit is maklik om tafels te leer. Jy moet dit net oor en oor herhaal en inoefen.  Gebruik ons flitskaarte en werkskaarte om sommer baie goed te doen en jou tafels op die punte van jou vingers te ken.  Hoe meer jy dit oefen en herhaal, hoe beter gaan jy dit onthou.

Shopping cart

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping