studiewenke vir adhd leerders

Studiewenke vir ADHD leerders

Om te lewe met ADHD is nie maklik nie. As iemand wat self ADHD is, kan ek getuig dat dit ‘n uitdaging is om daaglikse dinge gedoen te kry sonder om iets te vergeet. Om nie eers te praat van om ‘n taak klaar te kry teen ‘n sperdatum nie. Dan kom die angstigheid, aandag wat maklik afgelei word, gevoel van oorweldiging, en al die ander dinge ook by. Maar ADHD is ‘n seën, nie ‘n straf nie. Van die suksesvolste besigheidspersone en sportpersoonlikhede is ADHD leerders. As jy die regte metodes gebruik wanneer jy leer, gaan jy sonder twyfel jou akademiese potensiaal bereik.

Hier is ‘n paar studiewenke vir ADHD leerders wat ontwikkel is deur navorsers en persone wat self ADHD leerders is:

1. Kry die regte studie area

Jou studie area moet op ‘n plek wees waar dit stil is. Moenie leer waar jy ander mense hoor praat, of waar jou gesinslede heen en weer loop nie. Vermy dinge wat jou aandag kan aftrek.

Los jou foon in ‘n ander vertrek wanneer jy leer. Moenie prente voor jou teen die muur sit nie, en moenie voor ‘n venster leer nie. As daar geluide is wat jou aandag aftrek, luister eerder na klanke of musiek wat jou rustig maak en laat fokus. Soos die klank van reën, of rustige klassieke musiek.

As jy wil weet watter musiek jy kan luister wanneer jy leer, kyk hierdie video:

2. Breek jou studietyd op

In plaas daarvan om vir ‘n uur aanmekaar te probeer leer, breek eerder jou studietyd op in kleiner dele. Leer vir 20 minute, en rus vir 10 minute. Wees aktief in daardie 10 minute. ADHD leerders se brein skei nie genoegsame dopamien af nie. Deur aktief te wees in jou rus tyd, skei jou brein dopamien af wat baie belangrik is vir onder andere:

  • Geheue.
  • Gedrag en kognisie.
  • Aandag en fokus.
  • Motivering.
  • Leer.

Om jou konsentrasie te behou, kan jy ook jou vakke wissel. Leer ‘n sessie wiskunde, vat ‘n breuk, en as jy terugkom, leer ‘n sessie Afrikaans, of enige ander vak. Dan, na die volgende breuk, leer jy weer wiskunde, en so aan.

3. Maak lysies

Een van die heel belangrikste dinge wat ADHD leerders moet doen as hulle meer gefokus wil werk, is om doenlysies te maak. Aan die begin van jou studiesessie, moet jy ‘n lysie maak van alles wat jy vandag wil leer. Skryf neer watter bladsye of hoofstukke jy gaan leer, of watter huiswerk of opsommings jy gaan doen. Skryf presies neer hoeveel leer sessies jy gaan doen, en watter werk jy in elke sessie gaan leer.

Na elke sessie maak jy ‘n regmerkie langs daardie taak, sodat jy weet dit is gedoen. Jy kan selfs lysies maak vir elke week se werk wat jy wil doen.

4. Moenie te veel op een slag probeer doen nie

Wanneer jy jou lysie maak en jou studie tyd beplan, moenie te veel werk in een sessie probeer doen nie. Begin eerder vroeër leer sodat jy minder werk het om elke dag te doen. As jy te veel probeer doen op een slag, gaan jy oorweldig voel en niks inneem nie.

5. Beplan jou studie tyd rondom jou medikasie

Dit is vir die meeste leerders beter om in die middag te leer, terwyl hulle medikasie steeds help met fokus. Teen die aand is jou konsentrasie dalk soveel minder dat jy niks gaan inneem nie. Onthou, elkeen is anders, so kies jou studietyd slim.

Weet jy watter tye van die dag is jou fokus op sy beste? Gebruik daardie tye tot jou voordeel en leer hard. Later is jou fokus dalk minder, en gaan jy sukkel om die werk in te neem.

6. Gebruik visuele hulpmiddels

ADHD leerders floreer op visuele stimuli. Dit maak daarom sin om visuele hulpmiddels te gebruik wanneer jy leer. Maak flitskaarte, breinkaarte, diagramme en tabelle. Gebruik prente en kleure en wees kreatief.

As jy wil weet hoe om visuele hulpmiddels te maak en te gebruik, woon een van ons studiemetodes werkswinkels by. Dit gaan jou lewe verander!

Kliek hier om jou plek te bespreek.

7. Wees ‘n onderwyser

Wanneer dit kom by memorisering en herhaling, is dit belangrik dat jy nie net sit en deur jou werk lees nie. ADHD leerders moet beweeg en gesels wanneer hulle leer. Staan voor jou witbord en skryf die feite wat jy moet ken, neer. Jy hoef nie woord vir woord neer te skryf nie. Gebruik prente en vloei diagramme. Maak asof jy ‘n onderwyser is wat die werk vir ‘n klas verduidelik. Loop rond en praat hardop.

Wanneer jy jou flitskaarte memoriseer, loop rond en lees dit hardop. Verduidelik dit vir jouself en probeer onthou wat jy gelees het. Vir wenke om te memoriseer, kan jy hierdie video kyk:

8. Vra vir jouself vrae

Wanneer jy leer, probeer dink aan vrae wat jy vir jouself kan vra. Skryf die vrae neer op ‘n flitskaart, of op ‘n stuk papier. Loop rond en vra die vrae vir jouself. As jy dit nie kan antwoord nie, gaan weer deur jou werk.

Dit is ook goeie oefening om die antwoorde op die vrae wat jy uitgedink het, neer te skryf. Probeer dit in jou eie woorde skryf. So oefen jy om ‘n eksamen vraestel te beantwoord.

Onthou, die feit dat jy ‘n ADHD leerder is, beteken nie dat daar fout is met jou nie. Dit beteken net dat jy ontsettend kreatief is, en ‘n vermoë het om buite die boks te dink. Dis iets wat vir ander mense baie moeilik is.

Shopping cart

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping