hoe om feite te memoriseer

Hoe memoriseer ek ‘n lys van feite?

Maak nie saak in watter graad jy is nie, jy gaan erens deur die jaar ‘n lys van kort feite moet leer en onthou. In graad 12 geskiedenis gaan jy byvoorbeeld ‘n 4 punte vraag kry oor hoekom Amerika die Vietnam oorlog verloor het. Of in graad 7 Geografie kan jy dalk die volgende vraag kry: Noem vier van die aaklige gevolge van natuurrampe wat inwoners op land en op eilande in die gesig staar. Sommige vrae gaan baie punte tel, ander bietjie minder.

Hier is ‘n paar wenke oor hoe om feite te memoriseer:

1. Gebruik ‘n witbord

Wanneer jy feite leer, moet jy maak asof jy ‘n onderwyser is wat die werk vir ‘n klas verduidelik. Staan voor jou witbord, sê die feite hardop en skryf dit op die bord neer. Soos wat jy skryf, verduidelik die werk hardop. Jy hoef dit nie woord vir woord op die witbord neer te skryf nie, want dit gaan baie lank vat. Teken prente en skryf woorde neer. Die belangrikste is dat jy die werk hardop verduidelik.

2. Maak flitskaarte

Maak ‘n flitskaart vir elke feit. Loop rond en leer die flitskaarte uit jou kop uit. Herhaal elke feit hardop en probeer dit in jou eie woorde verduidelik.

3. Maak ‘n prentjie van elke feit

Visuele leerders en ADHD leerders moet prentjies gebruik wanneer hulle leer. Kom ons gebruik weer ‘n graad 7 Geografie vraag as ‘n voorbeeld. Kom ons veronderstel jy moet leer wanneer magma lawa word. Dan kan jy prente gebruik om dit te memoriseer. Voor jy begin prente teken, lees eers die feite hardop deur.

Magma is vuurwarm stadig-vloeiende, gesmelte gesteentes wat uit die aarde se mantel kom terwyl lawa vloeibare rots is wat uit’n vulkaan kom en nou op die aarde se oppervlak is.

Wanneer jy deur hierdie feite lees, watter prente kom in jou gedagtes op? Teken nou die prente op ‘n flitskaart, of in ‘n breinkaart. Teken kort, vinnige prente. Dit moet jou nie langer as ‘n minuut vat om ‘n prentjie te teken nie. Vat nou jou handboek en lees die feit hardop. Kyk nou na die prentjie, en terwyl jy die prentjie bestudeer, probeer om die feit wat jy in jou handboek gelees in jou eie woorde te herhaal. Herhaal die proses totdat jy elke feit uit jou kop kan verduidelik deur net na die prentjie te kyk.

4. Verander elke feit in ‘n vraag

Vrae is een van die beste maniere om feite te memoriseer. Lees elke feit hardop en dink aan hoe jy daardie feit in ‘n vraag kan verander. Maak nou ‘n flitskaart met die vraag aan die voorkant, en die antwoord aan die agterkant. Loop rond en leer die flitskaarte uit jou kop uit.

5. Maak ‘n breinkaart

Breinkaarte en vloeidiagramme is ‘n baie effektiewe manier om feite te memoriseer. As jy wil weet hoe om ‘n breinkaart te maak wat vir jou leerstyl gaan werk, en hoe om dit te memoriseer, woon een van ons studiemetodes werkswinkels by. Kliek hier om jou plek te bespreek.

6. Gebruik assossiasies

Daar is verskillende tipes memoriseringstegnieke waar jy assosiasies gebruik om inligting te memoriseer. Akronieme is ‘n metode waar jy een letter aan elke feit toeken. Dan maak jy ‘n “nonsens woord” om daardie feite te onthou. ‘n Goeie voorbeeld van ‘n akroniem is HEDMOA wat jou help om die volgorde van bewerkings te onthou. Ander tegnieke wat jy kan gebruik, is akroniem sinne, rympies, die Loci strategie en musiek.

As jy hulp nodig het om feite te memoriseer, woon een van ons studiemetodes werkswinkels by. Dit gaan jou lewe verander!

Shopping cart

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping