Stel jou voor dis eksamen tyd. Ousus kom by die huis. Haal haar boeke uit en begin leer. Haar werk is netjies uiteengesit en sy kan dadelik aan die werk spring. Na 45 minute staan sy op en vat ‘n 15 minute breuk voor sy weer begin leer. So gaan sy aan totdat sy haar werk goed genoeg ken om te gaan toets skryf die volgende dag.
Nou is dit kleinsus se beurt. Sy kom by die huis en sak op die bank neer. Ma smeek dat sy moet gaan leer, maar sy antwoord dat sy net ‘n bietjie wil rus voor sy begin. 3 ure en 6 gevegte tussen ma en kind later, staan sy uiteindelik op en gaan leer. 10 minute gaan verby en daar gaan sussie se deur oop. Sy het nou klaar geleer en vat gou ‘n breuk. Met ‘n groot stryd kry ma haar terug voor haar boeke en waarsku haar dat sy haar gaan vra wanneer sy ‘n breuk vat. ‘n Uur later kom kleinsus uit en ma begin vrae vra oor die werk. Teen die derde vraag waar kleinsus die antwoord uit haar duim probeer suig kom ma agter dat sy nie rerig geleer het soos sy moes nie. Dit ontaard in huismoles en almal is in trane. Klink dit bekend?
Dis dikwels vir ouers moeilik om te verstaan hoekom een kind so maklik saamwerk, terwyl die ander een net nie aan die gang kom nie.