Eksamentyd kan stresvol wees — vir kinders én ouers. Dit kan voel asof daar nie genoeg ure in die dag is nie. Om nie eers te praat van die moegheid en uitputting nie. Veral leerders wat elke dag ‘n vak skryf kan maklik oorweldig voel. Net so kan leerders in die hoër grade voel dat die volumes werk hulle totaal en al oorweldig. Dit is hier waar ChatGPT handig te pas kan kom.
In hierdie artikel, wanneer ons van ChatGPT praat, bedoel ons kunsmatige intelligensie (of “artificial intelligence”) oor die algemeen. Daar is baie verskillende programme wat gebruik kan word, onder andere Grok, Gemini, Meta AI en meer.
Sodra die woord ChatGPT gebruik word, is ouers onmiddellik skrikkerig dat dit hulle kinders gaan lui maak of dat hulle dit gaan misbruik om nie self hulle werk te doen nie. Dit is natuurlik ‘n geldige vrees, maar alles hang af van HOE dit gebruik word. As dit verkeerd gebruik word, raak dit ‘n kortpad en maak dit die brein lui om te dink. Maar indien dit reg gebruik word, kan dit ‘n handige studie hulpbron of studiemaat wees. Die doel is om dit te gebruik om jou kind te help om werk beter te verstaan, slimmer te oefen en aan te pas by hulle leerstyl.
5 slim maniere om ChatGPT tydens eksamens te gebruik
1. Verander notas in vasvrae
In plaas daarvan om dieselfde opsommings oor en oor te lees, vra vir ChatGPT om vrae te skep uit jou kind se notas.
Voorbeeld:
“Maak vir my ‘n Graad 6 Natuurwetenskappe vasvra uit hierdie notas.”
Hoekom werk dit?
Kinders onthou werk beter wanneer hulle antwoorde moet herroep eerder as om net oor en oor te lees.
2. Verduidelik moeilike konsepte op ‘n eenvoudige manier
Eksamen gaan oor meer as net om woord vir woord te memoriseer. Dit is baie belangrik dat kinders verstaan wat hulle leer. Mens onthou iets baie beter wanneer jy dit verstaan. Wanneer ‘n konsep ingewikkeld is, vra vir ChatGPT om dit vir jou kind op ‘n eenvoudige manier te verduidelik.
Voorbeeld:
“Verduidelik die limfstelsel vir my asof ek 10 jaar oud is.”
of
“Verduidelik breuke met eenvoudige voorbeelde uit die alledaagse lewe.”
Soms is ‘n eenvoudige verduideliking al wat ‘n kind nodig het.
3. Maak flitskaarte in sekondes
Flitskaarte, veral vraag en antwoord flitskaarte, is ‘n baie goeie manier vir kinetiese leerders om te leer. Flitskaarte werk uitstekend vir:
- Geskiedenis datums
- Wetenskap definisies
- Tale
- Formules
- Woordeskat
Voorbeeld
“Skep flitskaarte uit hierdie notas.”
4. Gebruik ChatGPT volgens jou leerstyl
Nie alle kinders leer op dieselfde manier nie. Een van die belangrikste dinge wat jy vir jou kind kan doen om hom te help met sy studies, is om uit te vind wat sy leerstyl is. Gebruik dan hierdie leerstyl om die regte vrae te vra tydens eksamen voorbereiding. Vind jou kind se leerstyl maklik deur ons leerstyl vraelys te voltooi. Kliek hier vir meer inligting.
Voorbeeld:
Visuele leerder:
“Verander hierdie hoofstuk in sleutelwoorde vir ‘n breinkaart.”
Ouditiewe leerder:
“Skryf dit as ‘n teks wat ek hardop kan lees.”
Kinestetiese leerder:
“Gee vir my aktiwiteite of bewegings om hierdie werk te onthou.”
5. Laat ChatGPT die onderwyser word
Kinders kan vra:
“Jy is my onderwyser. Gee vir my vrae uit hierdie notas en evalueer my antwoorde”
Dit maak oefening minder stresvol.
Algemene foute wat kinders met ChatGPT maak
- Kopieer antwoorde sonder om dit te verstaan
- Dink KI is altyd reg
- Lees net sonder aktiewe leer
- Laat KI dink in plaas van self dink
KI moet help om beter te dink — nie minder nie.
Finale gedagte
ChatGPT gaan nie die eksamen namens jou skryf nie. Jou brein moet steeds die werk doen. Maar as dit slim gebruik word, kan dit kinders help om rustiger en meer selfversekerd te voel.
Wil jy uitvind hoe jou kind die beste leer?
Doen ons Leerstyltoets en gebruik ons gratis Pomodoro hulpmiddel om beter studieroetines te bou.

