blackboard with handwritten calculations

Effektiewe Wiskunde Eksamen Strategieë

Skryf jy binnekort ’n wiskunde eksamen, maar jy voel benoud oor die idee om komplekse somme te doen en moeilike probleme op te los? Jy is nie alleen nie! Wiskunde eksamens kan baie stresvol wees, maar met die regte strategie en denkwyse kan jy dit takel met selfvertroue.

In hierdie blog gaan ons kyk na effektiewe eksamen strategieë wat jou spesifiek gaan help om jou wiskunde eksamens te bemeester.   Hierdie wenke gaan jou help om wiskunde probleme te benader met deeglikheid en presisie. 

1.  Verstaan Die Eksamen Formaat

Voordat jy begin voorberei vir die eksamen, maak seker jy verstaan die formaat van ’n wiskunde vraestel.  Verstaan die tipes vrae wat jy kan verwag, soos meervoudige keuse, kort antwoorde of probleem oplossing vrae.  As jy die formaat ken en verstaan gaan dit jou help om jou studie benadering daarby aan te pas.  

2.  Oefen Gereeld

Daar is ’n Engelse gesegde wat sê “Practice makes perfect”.  Dit is veral waar wanneer ons vir wiskunde leer. Maak spesifiek tyd vir studie sessies waar jy deur probleme en oefeninge werk.  Moenie net die wiskunde somme in jou handboek doen nie. Werk vraestelle uit.  Fokus op ’n verskeidenheid onderwerpe en moelikheidsgrade om ’n sterk fondasie te bou en konsepte te vestig.  Hoe meer jy oefen, hoe meer selfvertroue gaan jy kry en hoe beter gaan jy probleme oplos onder druk.

3.  Bemeester Probleem Oplossing Tegnieke

Wiskunde vereis kritiese denke en probleem oplossingstegnieke.  Fokus daarop om algemene probleem oplossingstegnieke te bemeester, soos om komplekse probleme op te breek in kleiner, meer hanteerbare dele en om relevante inligting en patrone te identifiseer.  Oefen om hierdie tegnieke toe te pas op verskillende wiskunde probleme om jou probleem oplossingsvermoëns te verbeter.  

4. Verduidelik Jou Werk In Die Vraestel

Wanneer jy wiskunde probleme oplos in die eksamen is dit belangrik om te wys HOE jy by die antwoord uitgekom het.  Onderwysers wil kyk hoe redeneer jy wanneer jy ’n vraag antwoord.  Selfs al maak jy ’n fout, of jy kom nie by die regte antwoord uit nie kan jy steeds punte kry as jy duidelik wys wat jou denkproses was en dat jy wel die konsepte verstaan.  Jy kan selfs (as daar tyd is) langs elke stap kortliks verduidelik wat jy gedoen het.  So kan jy ekstra punte kry.  

5.  Werk Slim Met Jou Tyd

Tydsbestuur is die sleutel tot sukses in enige wiskunde eksamen.  Werk strategies met jou tyd.  Voltooi eers die makliker vrae voor jy die moeiliker vrae aandurf.  As jy ’n moeilike vraag kry waarmee jy baie sukkel, moenie te lank daaraan tyd spandeer nie.  Merk dit en gaan aan na ander vrae.  Kom dan later terug om weer die moeiliker vraag klaar te maak.  As jy te lank fokus op een vraag gaan jy nie die vraestel klaarkry nie.  

6.  Hersien 

Soos wat die vraestel nader kom, spandeer tyd daaraan om sleutel konsepte en formules te hersien.  Maak opsommings of flitskaarte om jou geheue te verfris en om die areas waarin jy sukkel te identifiseer.  Oefen met ou vraestelle om toets kondisies te simuleer en om jouself gereed te kry vir die vraestel.

7. Ken Jou Tafels

Of jy in graad 4 is, of besig is met matriek, jou tafels maak saak. Tafels is die basis van wiskunde en is iets wat jy altyd gaan gebruik. Maak seker jy ken jou tafels op die punte van jou vingers (selfs al mag jy ‘n sakrekenaar gebruik in die eksamen).

Om goed te doen in jou wiskunde eksamen vereis ’n kombinasie van voorbereiding, oefening en strategiese denke.  Onthou, as jy hard werk en deurdruk kan jy enige wiskunde probleem met selfvertroue takel.

Shopping cart

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping