person in white shirt with brown wooden frame

Doen Hierdie Dinge Wanneer Jy Eksamen Skryf

Om eksamen te skryf kan baie stresvol wees.  Maar met die regte strategie kan jy eksamen skryf met selfvertroue en suksesvolle resultate kry. Onthou, wanneer jy ’n vraestel skryf deel jy jou kennis met iemand anders.  Dit hoef nie oorweldigend te wees nie. As jy reg voorberei en die vraestel slim benader kan jy jou eksamen maklik slaag en jou akademiese doelwitte bereik.

Die Aand en Oggend Voor die Eksamen

Wees voorbereid en glo in jouself: Kry ’n goeie nagrus en eet die volgende dag ’n gesonde ontbyt.  Pak die aand voor die tyd alles in wat jy gaan nodig hê. Wanneer jy georganiseerd is gaan jy al klaar kalmer voel.  Staan betyds op sodat jy nie hoef te jaag nie.  Moenie die oggend voor die eksamen vroeg opstaan om weer te leer nie.  Dit gaan net ekstra stres veroorsaak.

Wanneer jy die vraestel kry

  • Lees die instruksies deur: Die meeste studente lees nie die instruksies voor hulle die vraestel begin antwoord nie.  Dit is belangrik om dit eers rustig deur te lees sodat jy bewus is van enige spesifieke dinge wat van jou verwag word.
  • Lees die vraestel vlugtug deur: Voor jy begin antwoord, kyk eers deur die hele vraestel sodat jy weet hoe om jou tyd te beplan.  As daar byvoorbeeld ’n langvraag van 80 punte is wat jy moet antwoord is dit belangrik om genoeg tyd daarvoor oop te laat.  Tydsbeplanning is baie belangrik anders gaan jy nie betyds klaarkry nie.

Wanneer jy die vraestel begin antwoord

  • Lees die vraag deeglik: Lees die vraag mooi deur voordat jy begin antwoord.  Maak seker jy verstaan wat van jou verwag word.  Fokus op woorde soos noem, bespreek, analiseer, evalueer, gee jou opinie ensovoorts sodat jy weet hoe om die vraag te beantwoord.
  • Kyk hoeveel tel die vraag: Wanneer jy die vraag lees is dit belangrik om te kyk hoeveel die vraag tel.  Omkring die punte telling sodat jy weet hoeveel feite jy moet neerskryf.  
  • Antwoord in volsinne:  Maak nie maak watter vak jy skryf nie, antwoord altyd in volsinne. 
  • Fokus op wat jy ken: As daar vrae is waarmee jy sukkel moenie te lank daaraan tyd spandeer nie.  Antwoord eerste die vrae wat jy ken en kom dan later terug na die wat jy nie so goed ken nie.  As jy te lank tyd gaan spandeer op ’n vraag waarmee jy sukkel gaan jy dalk nie klaarkry nie. 

Verskillende tipes vrae

  • Meervoudige keuse (monkey puzzle):  Moenie net die eerste antwoord wat reg lyk merk nie.  Lees al die opsies deur en elimineer die antwoorde wat jy weet verkeerd is.  
  • Waar of vals tipe vrae: Kyk uit vir bewoording wat jou kan uitvang.  Let op woorde soos “altyd” of “nooit” wat dalk ’n stelling vals kan maak. Lees die vraag deeglik.
  • Pas bymekaar:  Moenie begin stres en net na die een kant kyk nie.  Kyk mooi na die opsies op die ander kant want al is jy nie seker nie, kan jy dalk onthou wanneer jy dit rustig deurlees.
  • Vul die woord in: Moenie dit leeg los nie.  Al weet jy nie, probeer ten minste iets skryf.  As jy dit leeg los gaan jy niks punte kry nie, maar as jy ten minste iets skryf kan jy dalk ’n punt kry. 
  • Kort antwoorde:  Fokus op sleutelterme en gee spesifieke detail om jou antwoord te ondersteun.
  • Langvrae: Beplan jou struktuur voor jy net begin skryf.  Doen dit deur die belangrikste punte neer te skryf sodat jy dit nie vergeet nie.
  • Somme en probleemoplossing:  Wys jou werk! Selfs al kom jy nie by die regte antwoord uit nie kan jy punte kry vir die stappe wat jy gevolg het.  Probeer eerder as wat jy net opgee.

Wanneer jy klaar is

Lees weer deur jou antwoorde:  Wanneer jy klaar is, gaan weer deur jou antwoorde.  Maak seker jy het genoeg geskryf by elke vraag soos wat die punte telling vereis en dat jy die vrae reg beantwoord het. Kyk uit vir nalatige foute. 

Onthou:  Voorbereiding is wat saak maak.  As jy reg en slim voorberei gaan jy rustig wees en die eksamen met selfvertroue aanpak. Ons studiemetodes werkswinkel leer jou hoe om reg voor te berei  en jou studies met selfvertroue aan te pak.  Kliek hier vir meer inligting.

Shopping basket

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping