afrikaanse bordspeletjies vir die hele gesin

5 Afrikaanse bordspeletjies vir die hele gesin

Bordspeletjies is ‘n prettige manier vir die hele gesin om tyd saam te spandeer, en in die proses ook belangrike lesse en feite te leer. Hier is ‘n paar bordspeletjies wat die hele gesin kan geniet.

1. Boereplaas

Boereplaas is ’n bordspeletjie wat reeds dekades Afrikaanssprekendes se gunsteling is. Hierdie Boereplaas beloof opvoedkundige vermaak vir die hele gesin; dit is geskik vir 2-6 spelers en leer kinders (en grootmense!) van die hantering van geld, wins en verlies, oordeelkundige aankope en boerdery.

Die doel van Boereplaas is om besluite te neem oor jou boerdery, sodat jy maksimum wins verkry en genoeg geld bekom om jou plaas (bord) met prentkaartjies te voltooi.

As jy nog nie vir oom Sakkie ken nie, gaan hy die lewe vir jou versuur!

Oom Sakkie is die Boer se regterhand en die plaas se voorman. Hy is ongelukkig maar lui en ‘n groot droogmaker en veroorsaak gereeld groot skade vir die Boer.

Geen speler kan prentkaartjies aankoop voordat hy/sy oom Sakkie aangekoop het nie. Jy kan wel deelneem aan die spel sonder dat jy reeds prentkaartjies of oom Sakkie het, aangesien daar baie algemene kaartjies is waarmee jy kan speel terwyl jy jou beurt afwag om ‘n oom Sakkie op te tel. Eers daarna kan jy begin boer met hoenders, beeste, koring, mielies, ensovoorts.

Die eerste speler wat al die kaartjies op sy plaas (bord) kan aankoop, is die wenner.

Boereplaas is hope pret en plesier, en die ideale opvoedkundige speletjie vir die gesin.

Ouderdomme: 6 – volwassene

2. Tyd Toer

Ken jou plek met die Tydmasjien rit oor ontwikkeling van die mensdom oor die afgelope 600 jaar in beide Suid-Afrika en die res van die wêreld.


TydToer is ’n opvoedkundige tydlynspeletjie wat jou kennis, geheue en vaardighede gaan toets oor geskiedkundige en ander gebeure. Het die Groot Trek plaasgevind voor die Franse Rewolusie? Word Coca-Cola verkoop as ’n suikerdrankie voor of na die Anglo-Boereoorlog? Het die eerste SA F1 Grand Prix plaasgevind voor Neil Armstrong op die maan geland het?


Die TydToer kaartjies (daar is 215) het sewe verskillende kategorieë, insluitend Ontdekkings & Uitvindings, Oorloë & Konflik, Kuns & Kultuur, Geskiedenis & Politiek, Natuur & Gebeure, Sport en Algemeen.


Die doel van die spel is om jou eie tydlyn te bou deur 9 kaarte oor gebeure in die regte volgorde te plaas voor jou opponente dit kan vermag. Maar wees versigtig: as jou tydlyn verkeerd is voor jou tydlyn vol is, begin jy oor!


Jy moet slim speel en jou tydlyn bou voordat ander spelers jou ongespeelde kaartjies met hul Krugerrande aankoop.

Ouderdomme: 8 – volwassene

3. Die Volgende Stop

Die Volgende Stop is ‘n bordspel ontwerp en saamgestel om sekere unieke elemente van Suid-Afrika aan ons kinders en kleinkinders oor te dra.


Terwyl julle Die Volgende Stop bordspel speel gaan jy genoeg feite van ons wonderlike land speel-speel leer en terselfdertyd hope pret hê.


Die Volgende Stop belowe om jou te laat lag wanneer jou spanmaat deur middel van stomstreke aan jou die woord verkleurmannetjie moet verduidelik, jy sal moet kopkrap wanneer ‘n vraag gestel word soos: Noem een van Suid-Afrika se agt diere rekords.

Onthou jy en jou kinders nog ons gesegdes wat ons op skool geleer het? Soveel meer feite is opgesluit in hierdie gesinsbordspeletjie wat beloof om hope pret vir die hele familie te verskaf.


Kom reis saam deur Suid-Afrika. Kry ‘n spanmaat en kies een van ses roetes om op te speel. Beweeg deur tien dorpe vanaf die beginpunt tot by die laaste dorp wat die einde is. Jy sal ‘n “pitstop” maak by minder bekende plekke soos Warrenton, Daniëlskuil, Ficksburg en Bethulie, maar jy sal ook stop by meer bekende plekke soos Durban, Kaapstad en Mosselbaai.

Pasop, troefkaarte kan jou vir twee rondtes na Sanparke se Kruger Wildtuin stuur of jy kan ‘n pap wiel kry op pad na jou volgende dorp wat sal veroorsaak dat jy ‘n rondte moet uitsit.

Moet nie dink jou reis gaan sonder uitdagings en terugslae wees nie. Foto’s van bekende plekke en diere is ook ingesluit by die bordspel.
300 Speelkaarte sal ure se speelgenot verskaf!

Ouderdomme: 6 – volwassene

4. Tel jou woorde

Tel Jou Woorde is ‘n unieke Afrikaanse weergawe van ‘n woordbouspel vir oud en jonk. Met 117 teëltjies en ‘n bord van 17X17 blokkies is elke spel anders en van voor af ‘n uitdaging. Die spel is ontwerp om 1-6 spelers te akkommodeer – ja, jy kan selfs net teen jouself speel!


Elke speler kry ‘n beurt om ‘n woord te bou met die 7 teëltjies op sy rakkie. Hy/sy probeer so veel moontlik punte bymekaar maak deur die meeste te maak van die teëltjies en die ligging van die bonusblokkies op die bord. Die speler met die meeste punte, kraai koning!


Die letterwaardes (puntetelling per letter) en letterverdeling (aantal teëltjies van elke letter) is spesifiek vir Afrikaans ontwerp, en verseker dat die spel goed ontwikkel. Die bonusblokkies, waarmee letters en woorde verdubbel en verdriedubbel kan word, is strategies geplaas om spelers aan te moedig om die bord tot in die hoeke te benut.


‘n Lekker kinkel in die spel is die Nar wat jou die opsie gee om enige teëltjie wat reeds op die bord is, te gebruik in ‘n nuwe woord. Of as jy die 2X2 bonusblokkie kan raak bou, mag jy ‘n tweede woord bou wat die 2X2 blokkie kruis.


Dan is daar ook die Lettervreter wat jou planne in die wiele kan ry. As jy hom optel, sluk hy die teëltjie met die hoogste waarde op jou rakkie in, en laat jou met slegs 5 teëltjies vir die volgende beurt… Wees dus versigtig om te lank aan jou waardevolle teëltjies vas te hou.


Daar is ook variasies op die reëls wat dit moontlik maak vir jong kinders om op gelyke vlak met volwassenes te kompeteer.
Hoe sterker die teenstanders, hoe meer uitdagend raak die spel. Dis eenvoudig, maar ook uiters bevredigend, en kan deur jonk en oud geniet word.

Ouderdomme: 7 – volwassene

5. BogWoordKies

BogWoordKies is ’n Afrikaanse bordspel wat lekker gewild is onder gesinne wat smag na saamspeel sonder die gebruik van ʼn skerm. BogWoordKies is ’n taalspeletjie waar die spelers definisies vir woorde opmaak en hul taalvernuf gebruik om woorde reg te raai of stomstreke te speel.

BogWoordKies kan maklik gesien word as ‘n kombinasie van Balderdash, Trivial Pursuit, en Pictionary. 


Die Afrikaanse bordspeletjie mark word jaarliks meer gewild en hierdie nuwe speletjie is leersaam en pret – Bluf, mimiek, teken, raai die regte woord – leer spelenderwys Afrikaans ken! 


Die “kies” in BogWoordKies is nie ’n spelfout nie; dit verwys na die slagspreuk tong-in-die-kies. Die bordspel was hoofsaaklik vir pret ontwikkel, maar dit help ook Afrikaanssprekendes om die taal beter te leer ken.


Die spel word gespeel met Woordkaarte of Vat ’n Kans-kaarte. Spelers probeer om eerste by die wenpunt te kom deur gebruik te maak van bluf, mimiek, tekeninge, algemene kennis of pure geluk. Daar is ook plekke op die bord waar spelers ʼn boete of bonus ontvang, sou hulle daarop beland.

Ouderdomme: 12 tot volwasse

Speletjies beskikbaar by https://www.spoetnik.co.za/af en Takealot

Het jy hulp nodig met studiemetodes? Kontak ons vir ‘n studiemetodes werkswinkel wat jou lewe gaan verander. Om te bespreek, kliek hier

Shopping cart

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping