kind wat hartseer voel oor 'n swak rapport

Het jy ‘n slegte rapport gekry?

Is jou rapport nie wat jy verwag het nie?

Ek weet… dit voel glad nie lekker nie.

Miskien het jy regtig hard geleer, maar jou punte wys dit nie. Of dalk het jy uitgestel, te min geleer, en nou het jou rapport jou behoorlik laat skrik.

Hoe dit ook al sy, ‘n swak rapport kan jou laat voel asof jy misluk het. Veral as jy ‘n vak gedruip het, kan dit voel of jou hele wêreld inmekaar tuimel.

Jy begin dalk dink:
“Miskien is ek nie slim genoeg nie.”
“Ek gaan nooit hierdie vak regkry nie.”
“Hoekom moet ek nog probeer?”

Maar ek wil hê jy moet vandag een ding onthou:

Jou rapport bepaal nie hoe slim jy is nie.

‘n Rapport wys net hoe dit hierdie keer gegaan het. Dit sê niks oor wat jy volgende kwartaal of volgende jaar kan bereik nie.

Daar is baie redes waarom leerders swak punte kry, en baie daarvan het niks te doen met intelligensie nie.

1. Jy gebruik dalk die verkeerde studiemetodes

Baie leerders werk hard, maar studeer eenvoudig op die verkeerde manier.

Jy kan nie Wiskunde op dieselfde manier leer as Geskiedenis nie. En selfs binne dieselfde vak werk verskillende tegnieke beter vir begrippe, langvrae, berekeninge of definisies.

As jy slimmer leer, hoef jy nie noodwendig langer te leer nie.

(Vir hulp met studiemetodes, kliek hier.)


2. Jy het dalk ADHD sonder dat jy dit weet

ADHD beteken nie altyd iemand is hiperaktief nie.

Baie leerders met ADHD sukkel eerder om te begin leer, stel alles uit, of voel so oorweldig dat hulle glad nie weet waar om te begin nie.

Wanneer dit gebeur, raak konsentrasie moeiliker en punte kan daaronder ly.

As jy dink dit klink soos jy, is dit die moeite werd om met jou ouers of ‘n professionele persoon daaroor te gesels.


3. Jy leer te lank sonder pouses

Dit klink indrukwekkend om te sê jy het drie ure aanmekaar geleer…

Maar jou brein werk nie so nie.

Na ‘n ruk raak jy moeg en onthou jy al hoe minder.

Probeer eerder die Pomodoro-tegniek:

  • Leer vir 25 minute.
  • Rus vir 5 minute.
  • Begin weer.

Jy sal verbaas wees hoeveel meer jy onthou.

(Gebruik gerus ons gratis Pomodoro-timer op ons Engelse susterwebwerf.)


4. Daar is te veel dinge wat jou aandag aftrek

Dalk leer jy by die eetkamertafel terwyl almal rondom jou besig is.

Of jou foon lê langs jou.

Of die TV speel.

Of daar is gedurig mense wat met jou praat.

Elke keer as jou aandag afgetrek word, vat dit tyd vir jou brein om weer te fokus.

Probeer ‘n plek kry waar jy so min moontlik onderbreek word.


5. Jy leer te stil

Wanneer jy leer, probeer om die werk hardop vir jouself te verduidelik.

As jy dit vir iemand anders sou kon verduidelik, verstaan jy dit gewoonlik baie beter.

Hoe meer van jou sintuie saamwerk wanneer jy leer, hoe makliker onthou jou brein die werk.


6. Jy glo nie meer in jouself nie

Een swak punt kan jou laat dink:

“Ek is net nie goed in hierdie vak nie.”

Maar dis nie noodwendig waar nie.

Baie leerders kry een keer swak punte en besluit dan dat hulle nooit goed genoeg gaan wees nie.

Moenie jou hele toekoms besluit op grond van een rapport nie.

As jy voel jou selfvertroue is baie laag, praat met iemand wat jy vertrou. Jy hoef nie alleen daarmee te sit nie.


7. Jy het eenvoudig nie genoeg geleer nie

Soms is die antwoord eerlikwaar eenvoudig.

Jy het nie genoeg tyd ingesit nie.

Dis okay om dit te erken, want dit beteken jy kan iets daaraan doen.

Hoërskoolwerk verg baie oefening, herhaling en memorisering.

Moenie wag tot die eksamen om eers opsommings te maak nie.

Hou jou werk deur die kwartaal op datum, sodat eksamentyd gebruik kan word om te oefen en te hersien.


8. Jou tydsbeplanning werk nie

As jy eers die dag voor die toets begin leer, maak jy dit onnodig moeilik vir jouself.

Sodra jy jou toets- of eksamenrooster kry, werk vir jouself ‘n leerrooster uit.

Dan hoef jy nie alles op een slag te probeer doen nie, en voel die werk sommer baie minder oorweldigend.


Onthou dit…

‘n Swak rapport is nie die einde van die wêreld nie.

Dit beteken nie jy is dom nie.

Dit beteken nie jy is lui nie.

Dit beteken nie jy gaan nooit suksesvol wees nie.

Dit beteken net dat daar dinge is wat jy anders kan doen.

Vind uit wat hierdie keer verkeerd gegaan het. Pas dit aan. Probeer weer.

Selfs as jy gedruip het, kan jy steeds opstaan en volgende keer beter doen.

Moenie moed opgee nie.

Hierdie rapport vertel nie jou storie nie.

Dit is net een hoofstuk.

En die volgende hoofstuk kan baie beter lyk.

Gereelde Vrae

Beteken ‘n slegte rapport ek is nie slim nie?

Nee. ‘n Rapport wys net hoe jy in hierdie eksamen of kwartaal gevaar het. Dit bepaal nie hoe intelligent jy is of wat jy in die toekoms kan bereik nie. Baie leerders verbeter hulle punte dramaties wanneer hulle die regte studiemetodes begin gebruik.


Hoe kan ek my punte verbeter?

Begin deur uit te vind waarom jou punte swak was. Het jy die verkeerde studiemetodes gebruik? Het jy te min geleer? Het jy te laat begin? Sodra jy die rede ken, kan jy ‘n plan maak om dit reg te stel. Met konsekwente oefening en die regte tegnieke kan jou punte verbeter.


Hoe lank moet ek elke dag leer?

Daar is nie ‘n vaste antwoord nie. Dit hang af van jou graad, vakke en hoeveel werk jy het. Kort, gefokusde studiesessies is gewoonlik baie meer effektief as ure se leer sonder pouses. Die Pomodoro-tegniek (25 minute leer en 5 minute rus) werk uitstekend vir baie leerders.


Wat is die beste manier om vir ‘n toets of eksamen te leer?

Begin vroeg. Maak seker jou opsommings is op datum, verduidelik die werk hardop vir jouself, doen oefenvrae en hersien gereeld. Om net jou notas oor en oor te lees is gewoonlik nie genoeg nie.


Kan ADHD my punte beïnvloed?

Ja. ADHD kan dit moeiliker maak om te konsentreer, take te begin en georganiseerd te bly. Dit beteken nie jy is minder slim nie. As jy vermoed dat ADHD jou leer beïnvloed, praat met jou ouers of ‘n onderwyser.


Wat moet ek doen as ek ‘n vak gedruip het?

Moenie moed opgee nie. Praat met jou onderwyser om uit te vind waar jy punte verloor het en maak ‘n plan om daaraan te werk. Baie suksesvolle mense het al vakke gedruip, maar hulle het weer opgestaan en harder én slimmer gewerk.


Hoe weet ek of ek die regte studiemetodes gebruik?

As jy baie tyd spandeer om te leer maar jou punte verbeter nie, is dit moontlik dat jou studiemetodes nie vir jou of vir daardie vak werk nie. Die regte studietegnieke kan ‘n groot verskil maak aan jou begrip, geheue en selfvertroue.


Kan ek steeds beter doen, al het ek ‘n baie swak rapport gekry?

Beslis. Elke eksamen is ‘n nuwe geleentheid. Jou huidige rapport bepaal nie jou toekoms nie. As jy bereid is om jou studiegewoontes te verander en hulp te vra wanneer jy dit nodig het, kan jou punte met tyd aansienlik verbeter.

Shopping cart

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping