plant- en diersel

Lewenswetenskap graad 9: Hoe memoriseer ek die plant- en diersel?

Om te leer vir lewenswetenskap is nie moeilik nie. Daar is sketse wat jy moet ken, definisies wat jy moet memoriseer en feite wat jy moet weergee. Maar baie kinders sukkel om lewenswetenskap te verstaan en wanneer dit kom by eksamen, vergeet hulle maklik wat hulle geleer het. Hier is ‘n paar wenke om lewenswetenskap, spesifiek die plant- en diersel, te leer. Onthou, jy kan hierdie tegnieke vir al jou lewenswetenskap werk gebruik.

1. Gebruik flitskaarte om name en sketse te memoriseer

Flitskaarte is ‘n lekker en maklike manier om te leer, veral vir kinetiese leerders. Jy kan flitskaarte enige plek leer, van buite in die tuin tot in die kar wanneer julle erens heen ry. Die belangrikste is dat jy jou flitskaarte genoeg moet herhaal sodat jy dit uit jou kop uit ken. Maak seker jy verstaan wat jy leer. Aan die voorkant van die flitskaart skryf jy die naam van die organel, en aan die agterkant kan jy ‘n definisie skryf, of net ‘n skets maak. As jy byvoorbeeld ‘n flitskaart van die vakuool maak, skryf jy aan die voorkant “Vakuool” en aan die agterkant skryf jy sy funksie : “Vakuole help om waterbalans in plantselle te handhaaf.” Teken ook ‘n prentjie van die vakuool sodat jy die skets kan uitken in die eksamen vraestel. Jy kan jou eie flitskaarte maak, of jy kan ons flitskaarte koop wat jy self kan uitdruk,of op jou foon kan laai.

2. Leer prakties deur te doen

Lewenswetenskap is ‘n lekker vak waar jy dit wat jy moet leer, op ‘n praktiese manier kan memoriseer. Bou modelle van die selle of teken dit oor en oor. Jy kan byvoorbeeld selfs ‘n klomp klippe vat, dit verskillende kleure verf en so die plant-of diersel “bou”. Elke klip kan ‘n deel van die sel verteenwoordig. Trek dan ‘n sirkel op ‘n groot papier en sit elke klip (seldeel) op die regte plek neer. Die selkern of nukleus kom byvoorbeeld in die middel, en die golgi-kompleks kom regs bo. Vir die selmembraan kan jy takke of blare gebruik. Wees kreatief en dink buite die boks!

3. Gebruik ‘n witbord

‘n Witbord is iets wat jy MOET hê in jou leerarea. Gebruik ‘n witbord om jou sketse te leer en in te oefen. Teken jou sketse oor en oor op die bord. Jy moet weet hoe die sel as ‘n geheel lyk, asook hoe elke deeltjie van die sel lyk. Soos wat jy die skets op die witbord teken, verduidelik elke deel van die sel se funksie hardop vir jouself. Asof jy ‘n onderwyser is wat vir ‘n klas die werk moet verduidelik. Herhaal die proses totday jy die skets uit jou kop uit kan teken en verduidelik.

4. Maak opsommings

Teken ‘n diagram of breinkaart om die name, sketse en funksies van elke deel van die sel op te som. Gebruik verskillende kleure en moenie te veel inligting op een bladsy skryf nie. Leer die diagram of breinkaart uit jou kop totdat jy dit kan oorteken sonder ‘n probleem.

5. Bou jou eie plant of diersel met kaartjies of post-its

Teken die sel op ‘n groot papier of witbord. Op elke kaartjie of post-it skryf jy die sel deel se naam en as jy wil, teken ook die skets van daardie spesifieke sel deel. Skommel die kaartjies en plaas elke kaartjie op die regte plek om die plant of diersel te “bou”, amper asof jy ‘n legkaart bou. Herhaal die proses. Hier is ‘n voorbeeld:

die diersel

6. Gebruik YouTube

Wanneer jy lewenswetenskap leer, is dit belangrik dat jy verstaan wat jy leer. Dit help nie jy memoriseer net die werk nie. Maak seker jy verstaan. Wanneer jy iets leer en jy verstaan nie wat jy moet leer nie, is dit goed om ‘n Youtube video te kyk waar iemand die werk verduidelik.

7. Werk deur ou vraestelle

Die geheim tot sukses in lewenswetenskap, en enige ander vak, is om deur ou vraestelle te werk. Dit is ‘n ongelooflike belangrike deel van die leerproses. Beplan jou tyd slim sodat jy genoeg tyd het om deur ou vraestelle te werk voordat jy toets skryf.

Het jy hulp nodig met sudiemetodes? Kontak ons by info@studiemetodes.co.za om jou plek te bespreek.

Shopping cart

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping