adorable blur bookcase books

Hoe leer ek my kind om te leer?

Eksamen tyd is ‘n uitdaging vir beide ouer en kind. Stresvlakke is hoog want die werk is baie en die tyd is min. Kinders weet nie altyd hoe om te leer nie, en ouers weet nie altyd hoe om vir hulle kinders die regte leertegnieke te wys nie. Die vraag wat baie ouers het, veral ouers van laerskool kinders, is wat hulle moet doen om vir hulle kinders te wys hoe om te leer. Hier is ‘n paar wenke.

Tydsbeplanning

Tydsbeplanning is nie net belangrik vir produktiwiteit in volwassenes nie, maar is ‘n kern aspek van sukses op skool. Die mees algemene klagte van ouers is dat daar te min tyd vir hulle kinders is om al die werk te leer vir die eksamen. Kinders is besig met aktiwiteite, het baie huiswerk en take, en moet nog eet en rus ook. Hoe vinniger kinders leer om hulle tyd te beplan en maksimaal te benut, hoe beter. Het jy al agtergekom dat die kinders wat die besigste is op skool, met sport, kultuur en meer, ook meestal goeie akademiese presteerders is? Dit is omdat hulle gedwing word om hulle tyd deeglik te beplan en te benut.

Verbeter jou tydsbeplanning so:

  • Moenie wag tot eksamen tyd voor jy begin opsom nie. Moet ook nie wag tot jy jou afbakening kry voor jy begin opsom nie. Probeer elke dag jou werk opsom, of andersins, boek tyd oor ‘n naweek uit om die vorige week se werk op te som. Maak seker jy bêre elke vak se opsommings sodat jy dit maklik kan kry tydens eksamen tyd.
  • Sodra jy jou eksamenrooster kry, werk vir jou ‘n studierooster uit sodat jy gemaklik al jou werk kan memoriseer en genoeg oefen vraestelle kan uitwerk.
  • Maak ‘n doenlysie vir elke dag en merk elke item wat jy voltooi het, af. Daar is net iets aan ‘n doenlysie wat jou motiveer en laat voel jy het iets bereik.
  • Leer 45 minute en rus 15 minute. Wees aktief in jou rustyd sodat jou brein lekker suurstof kry.

Stel doelwitte op

Sit saam aan die begin van elke kwartaal en stel doelwitte op vir elke vak. Wees presies en spesifiek wanneer jy die doelwitte opstel en maak seker jy het ‘n plan oor hoe jy die doelwit gaan bereik. Wees kreatief en maak ‘n kleurvolle plakaat van die doelwitte. Sit dit op ‘n plek waar jy dit elke dag kan sien.

Byvoorbeeld: Ek wil 80% hê op my rapport vir wiskunde in die derde kwartaal. Ek gaan elke dag my wiskunde flitskaarte maak en twee ker per week ‘n oefenvraestel doen.

Het jy hulp nodig met doelwitstelling en studiemotivering? Woon ons studiemotiverings program by.

Maak jou eie opsommings

Opsommings is ‘n belangrike deel van die leerproses. Dis beter om self op te som as wat jy ander se opsommings koop. Maak seker jy het ‘n opsom tegniek wat werk vir jou en sorg dat jou opsommings altyd op datum is. Vir wiskunde, Afrikaans en Engels, asook definisies, kan jy flitskaarte gebruik, vir leervakke gebruik jy breinkaarte, vloeidiagramme en tabelle. Gebruik tegnieke soos akronieme om lyste op te som. Soos wat jy in graad 1 gedoen het om aeiou te onthou deur die sin “Arme ek is oupa uil” te memoriseer.

As jy stap vir stap wil leer hoe om op te som, kliek hier

Memoriseer en verstaan jou opsommings

Gedurende eksamen tyd, moet jy die opsommings wat jy reg deur die jaar gemaak het, memoriseer en verstaan sodat jy die eksamen vrae kan antwoord. Doen onder andere die volgende:

  • Leer hardop en gebruik jou leerstyl.
  • Vra vir jouself vrae terwyl jy leer. Probeer dink hoe die onderwyser die vraag gaan vra.
  • Verduidelik die werk oor en oor hardop vir jouself totdat jy dit uit jou kop kan verduidelik. As jy iets kan verduidelik, beteken dit dat jy dit verstaan.
  • Werk deur soveel as moontlik oefen vraestelle.

Jou leerarea is belangrik

Leer op ‘n plek waar daar nie te veel geraas en beweging is nie. Die eetkamer tafel is nie die ideale leerplek nie. Leer by ‘n tafel op ‘n stoel wat gemaklik is en op’n plek waar dit stil is en waar jy hardop kan leer. Wanneer jy memoriseer, kan jy op ‘n witbord skryf en rondloop terwyl jy jou flitskaarte herhaal. Sorg dat jou tafel netjies is en verwyder dinge wat jou aandag kan aftrek, soos jou foon, die tv of musiek.

Eksamen skryf hoef nie ‘n nagmerrie te wees nie. Die geheim is om reg deur die jaar te werk, sodat eksamen tyd net daar is vir memorisering.

Kontak ons vir hulp met studiemetodes en studiemotivering.

Shopping cart

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping