kind wat leer vir die eksamen deur AI en chatGPT te gebruik

Kan ChatGPT Jou Kind Help Om Beter Te Leer?

Ja – As Jy Dit Reg Gebruik.

Kunsmatige Intelligensie (KI) is besig om oral deel van ons lewe te word. Daarom is dit nie vreemd dat al hoe meer kinders ook ChatGPT gebruik vir skoolwerk nie.

Die konsep van KI maak sommige ouers egter baie ongemaklik.

Jy hoor stories van kinders wat vir ChatGPT vra om hul opstelle te skryf, take te doen of sommer net die antwoorde te gee. Dan begin mens wonder:

“Gaan hierdie tegnologie nie kinders lui maak nie?”

Dit is ‘n geldige vraag.

As ‘n kind vir ChatGPT vra om al die werk namens hom te doen, gaan daar waarskynlik baie min leer plaasvind. Die werk word dalk voltooi, maar dit beteken nie noodwendig die kind verstaan die inhoud of gaan dit in die eksamen kan onthou nie.

Maar dit beteken nie dat KI sleg is vir leer nie.

Trouens, as dit reg gebruik word, kan ChatGPT kinders help om die werk beter te verstaan, hul swak plekke raak te sien en meer effektief vir toetse en eksamens voor te berei.

Die geheim is eenvoudig:

ChatGPT moet jou kind help om beter te dink, nie die dinkwerk namens hom doen nie.

Hoekom Werk Sommige Studiemetodes Beter As Ander?

Baie kinders maak dieselfde fout wanneer hulle leer.

Hulle lees dieselfde notas oor en oor.

Dan voel dit vir hulle asof hulle die werk ken, omdat hulle die woorde herken wanneer hulle dit lees.

Maar daar is ‘n groot verskil tussen iets herken en iets onthou.

In ‘n eksamen sit daar nie notas voor jou nie.

Jy moet die antwoord self kan onthou en die vrae wat gevra word kan begryp. 

Navorsing wys dat kinders die werk beter onthou wanneer hulle hulself toets en probeer om antwoorde te herroep, eerder as om dieselfde notas oor en oor te lees.

Dit is hoekom vrae beantwoord, verduidelikings gee en jouself toets gewoonlik baie meer effektief is as om net passief deur notas te lees.

En dit is presies waar ChatGPT ‘n nuttige hulpmiddel kan wees.

Die Verkeerde Manier Om ChatGPT Te Gebruik

Kom ons wees eerlik.

Hierdie tipe opdragte help gewoonlik nie baie met leer nie:

  • Skryf my Geskiedenis-opstel.
  • Gee vir my die antwoorde.
  • Doen my huiswerk.
  • Som hierdie hoofstuk vir my op.

Dit mag dalk tyd spaar, maar die kind doen baie min van die dinkwerk.

En hoe minder ‘n kind dink, hoe minder leer vind plaas.

Wanneer die eksamen kom, ontdek baie kinders dat hulle die antwoorde herken wanneer hulle dit sien, maar nie self kan onthou wanneer hulle dit nodig het nie.

Die Regte Manier Om ChatGPT Te Gebruik

In plaas daarvan om ChatGPT die werk te laat doen, kan kinders dit gebruik soos ‘n studiemaat of persoonlike tutor.

Hier is drie maniere waarop dit werklik kan help.

1. Laat ChatGPT Jou Toets

Een van die beste maniere om te leer, is om jouself te toets.

In plaas daarvan om dieselfde werk weer en weer te lees, kan jou kind vir ChatGPT vra om vrae uit die werk op te stel.

Byvoorbeeld:

“Tree op soos ‘n Graad 9 Geskiedenis-onderwyser. Gebruik die notas hieronder en stel 20 toets- of eksamenvrae op. Moenie die antwoorde gee voordat ek die vrae self probeer antwoord het nie.”

Nou moet die kind die antwoorde self onthou.

Dit help om kennis vas te lê en wys vinnig waar daar nog gapings is.

2. Verduidelik Die Werk Vir ChatGPT

Hierdie is waarskynlik die kragtigste manier om ChatGPT vir leer te gebruik.

Nadat jou kind die werk geleer het, verduidelik hy dit in sy eie woorde vir ChatGPT.

Byvoorbeeld:

“Ek is ‘n Graad 9-leerder wat die Anglo-Boereoorlog leer. Ek gaan dit nou in my eie woorde verduidelik. Moenie my onderbreek nie. Wanneer ek klaar is:

1. Wys vir my enige feite wat verkeerd is.
2. Vertel my watter belangrike feite ek uitgelaat het.
3. Wys vir my waar my begrip swak is.
4. Gee my ‘n persentasie vir my verduideliking.
5. Verduidelik die dele wat ek nie goed verstaan nie in eenvoudige taal.
6. Stel 5 vrae op oor die dele waarmee ek nog sukkel.

Wag totdat ek klaar gepraat het voordat jy antwoord.”

Hier gebeur iets belangriks.

Die kind moet self dink.

Die kind moet self verduidelik.

Die kind moet self probeer om die werk te organiseer en sin daarvan te maak.

ChatGPT luister net en help om die gapings uit te wys.

Dit is baie nader aan werklike leer as om bloot antwoorde te kry.

3. Laat ChatGPT Soos ‘n Onderwyser Optree

Baie kinders dink hulle ken die werk totdat iemand begin vrae vra.

Dan besef hulle skielik hoeveel hulle nog nie heeltemal verstaan nie.

ChatGPT kan gebruik word om soos ‘n onderwyser op te tree.

Byvoorbeeld:

“Tree op soos ‘n ervare Graad 9 Geskiedenis-onderwyser. Ek leer die Anglo-Boereoorlog. Vra my een vraag op ‘n slag. Na elke antwoord:

– Sê wat ek reg gekry het.
– Wys wat ek gemis het.
– Gee my ‘n punt uit 10.
– Vra ‘n moeiliker vraag.

Hou aan totdat jy die dele identifiseer wat ek nog moet leer.”

Nou word leer ‘n gesprek eerder as net leeswerk.

Die kind kry terugvoer, word uitgedaag en ontdek vinnig watter dele nog aandag nodig het.

Hoe Weet Jy Of ChatGPT Jou Kind Help?

Hier is ‘n eenvoudige reël:

As jou kind die meeste van die dinkwerk doen, help ChatGPT waarskynlik.

As ChatGPT die meeste van die dinkwerk doen, help dit waarskynlik nie.

Vra jouself:

Gebruik my kind ChatGPT om:

  • Homself te toets?
  • Werk te verduidelik?
  • Vrae te beantwoord?
  • Foute op te spoor?

Of gebruik hy dit om:

  • Antwoorde af te skryf?
  • Opstelle te skryf?
  • Take namens hom te doen?

Daardie verskil maak saak.

KI Gaan Nie Weggaan Nie

Of ons daarvan hou of nie, KI gaan deel wees van ons kinders se toekoms.

Ons kan probeer om dit heeltemal te vermy, of ons kan ons kinders leer hoe om dit verstandig te gebruik.

Die kinders wat die meeste voordeel uit KI gaan kry, gaan waarskynlik nie die kinders wees wat dit al die werk laat doen nie.

Dit gaan die kinders wees wat dit gebruik om beter vrae te vra, hul swak plekke raak te sien en die werk beter te verstaan.

Aan die einde van die dag moet elke kind steeds self in die eksamen sit.

Daarom behoort ChatGPT nie die plek van leer in te neem nie.

Dit behoort kinders te help om beter te leer.

Shopping cart

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping