8 wenke om biologie te leer

8 Maniere om te leer vir biologie

Biologie is geweldig interessant, maar tog sukkel baie studente om dit te leer. Hulle vind dit oorweldigend, vervelig en deurmekaar. Eintlik is biologie fassinerend om te leer, maar as jy dit nie reg leer nie, kan jy sukkel om dit verstaan en kan jou punte sak. Hier is ‘n paar wenke om biologie te leer.

1. Kry jou kop reg

Dit wat jy glo het geweldig baie krag. As jy glo dat biologie moeilik is en dat jy dit nie kan doen nie, gaan jy daarmee sukkel. Begin jou denkwyse rondom biologie verander. Dink positief daaroor en sê vir jouself dat dit moontlik is om goeie punte te kry as jy reg leer. Verstaan dat jy harde werk gaan moet insit en dat dit moeite gaan wees om alles te leer. Maar daardie moeite gaan vrugte afwerp wanneer jy goeie punte kry.

2. Maak flitskaarte vir konsepte, begrippe en definisies

Flitskaarte is een van die beste maniere om vir enige vak te leer. Biologie konsepte volg op mekaar. So as jy nie kophou met die konsepte nie, gaan jy erens deurmekaar raak. Maak seker jy verstaan die konsepte deur flitskaarte te maak en dit te memoriseer. Ons gebruik ook flitskaarte om terme en funksies te leer en begrippe te verstaan.

As jy wil weet hoe om flitskaarte te maak, woon een van ons studiemetodes werkswinkels by. Kliek hier om jou plek te bespreek.

3. Maak notas, diagramme en opsommings

Biologie is nie soos ander leervakke nie. Jy moet verstaan wat jy leer, en die konsepte kan toepas. Dit gaan oor meer as net memorisering. Om die konsepte te verstaan, moet jy dit vir jouself verduidelik. Die beste manier om dit te doen, is om notas, diagramme en opsommings te maak.

Kom ons sê jy moet die hart leer. I.p.v. om net deur die handboek te lees en dit te probeer memoriseer, teken ‘n diagram van die hart. Skryf neer wat elke deel se naam en funksie is, en hoe alles saamwerk om jou hart te laat klop. Teken terselfdertyd die hart sodat jy weet hoe dit lyk. Maak dit kleurvol en interessant.

As jy wil weet hoe om diagramme en opsommings te maak, woon een van ons studiemetodes werkswinkels by. Kliek hier om jou plek te bespreek.

4. Gebruik prente en sketse

Biologie bestaan nie net uit woorde nie. Sketse vorm ‘n groot deel van jou biologie handboek, en daarom moet jy jou sketse ken en verstaan. Dis nie genoeg om net na die skets te kyk en dit te probeer memoriseer nie. Teken die sketse oor en oor. Oefen dit tot jy dit kan oorteken sonder om in jou handboek te kyk. Maak seker jy weet wat elke deel in die skets se naam en funksie is (onthou, ons gebruik flitskaarte om die name en funksies te memoriseer).

5. Verduidelik die werk

Wanneer dit eksamen tyd is, moet jou flitskaarte en opsommings reeds klaar wees. Om jou werk te memoriseer vir ‘n toets, is dit nie genoeg om net deur die handboek te lees nie. Vat jou flitskaarte en opsommings, en verduidelik die werk vir jouself. Terwyl jy verduidelik, teken sketse, maak pyltjies om prosesse aan te dui en meer. Maak asof jy ‘n onderwyser is wat die werk aan ‘n klas moet verduidelik. Gebruik voorbeelde en wees kreatief.

6. Kyk videos of aanlyn lesse

Op YouTube kan jy inligting oor amper enige onderwerp kry. Gebruik dit tot jou voordeel. As jy byvoorbeeld leer oor hoe jou longe werk, kyk ‘n video wat die konsepte verduidelik. Al is dit in Engels. As daar konsepte is wat jy nie verstaan nie, doen navorsing. Onthou, jy moet biologie VERSTAAN.

7. Oefen

Om seker te maak jy verstaan die werk, moet jy dit inoefen. Doen die vrae aan die einde van elke hoofstuk in jou handboek. Kry ou vraestelle wat jy kan oefen. Dit gaan vir jou wys waarmee jy sukkel en waaraan jy nog aandag moet gee.

8. Doen tydsbeplanning

Tydsbeplanning is ontsettend belangrik en ‘n vaardigheid wat jy vir die res van jou lewe gaan gebruik. As jy jou tyd slim kan beplan, gaan die lewe vir jou makliker wees. Vir biologie moet jy jou tyd so beplan dat jou flitskaarte en opsommings elke week op datum is. Eksamen tyd is nie daar om opsommings te doen nie. Wanneer dit eksamen is, moet jy net jou werk memoriseer.

As jy hulp nodig het met tydsbeplanning, en hoe om jou werk te memoriseer, woon een van ons studiemetodes werkswinkels by. Kliek hier om jou plek te bespreek.

Om goeie punte te kry, moet jy harde werk insit. Dit kos moeite om suksesvol te wees, maar jy gaan nie spyt wees as jy hard werk nie.

Shopping cart

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping