hoe leer ek vir wiskunde

Hoe leer ek vir wiskunde?

Daar bestaan baie mites rondom wiskunde. Dinge soos:

  • Mens hoef nie vir wiskunde te leer nie;
  • Ek is nie aangelê vir wiskunde nie;
  • Meisies is beter met taal as wiskunde;
  • Wiskunde is moeilik, en nog meer.

Mense het die indruk dat net sekere leerlinge kan presteer in wiskunde. Dat sukses in wiskunde slegs beskore is vir sekere studente wie ‘n ingebôre wiskunde talent het. Die waarheid is egter dat elkeen van ons wiskunde kan doen. Vir sommige van ons vat dit bietjie langer om die konsepte te verstaan as vir ander, maar die feit is dat ons almal kan presteer in wiskunde as ons reg leer.

Wiskunde is ‘n taal

As jy mooi daaraan dink, is wiskunde ‘n taal op sy eie. Net soos enige taal, het wiskunde simbole wat jy moet leer en dit het sekere reëls wat gevolg moet word. Toe jy leer skryf het, moes jy eers die alfabet leer (simbole), en jy moes leer hoe jy sinne skryf en wat die reëls van die taal is. Wiskunde is presies dieselfde. Daar is simbole (+ – x = y Ï€) en daar is reëls, stappe en formules. As jy mooi daaraan dink, is wiskunde dan nie so moeilik nie. Jy moet jou simbole, reëls, stappe en formules uit jou kop uit ken, net soos wat jy die alfabet ken, en dan moet jy dit oefen, soos wat jy geoefen het om te leer lees en skryf.

Oefening is belangrik

Jy sou nooit kon lees of skryf as jy nie geoefen het nie. Inoefening is baie belangrik vir enige taal, insluitende wiskunde. Hoe meer jy oefen, hoe beter gaan jy word. Doen elke dag jou huiswerk, en werk soveel as moontlik oefen vraestelle uit. Oefen vraestelle leer jou hoe onderwysers die vrae vra, en wat die regte manier is om te antwoord. Dit wys jou ook waar jou foute is en aan watter aspekte jy moet werk. Werk ten minste een vraestel per week uit.

Fokus op woordsomme

Woordsomme toets of jy die som verstaan, jou stappe en formules ken, en of jy die stappe prakties kan toepas. Dit kyk of jy kan onderskei watter metode om te gebruik in watter situasie. As jy gereeld woordsomme oefen, gaan jy leer om buite die boks te dink, en gaan die somme vir jou al hoe makliker raak.

Verstaan wat jy leer

Dis nie genoeg om net jou formules en metodes te memoriseer nie. Jy moet dit VERSTAAN. Wanneer jy leer, probeer dink hoekom die som op ‘n sekere manier gedoen word. Wat is die logika daaragter? Woordsomme gaan jou baie help met verstaan, so maak seker jy oefen genoeg woordsomme. Moenie mismoedig voel as jy iets nie verstaan nie. Soms vat dit tyd om iets behoorlik te verstaan. Die belangrikste is dat jy nie moed opgee nie. Die beste wiskundiges in die wêreld het ook tyd gevat om dinge te verstaan, maar die verskil is dat hulle aangehou het tot hulle dit kon verstaan. Jy is nie dom as nie dadelik alles verstaan nie, maar jy sal dom wees as jy ophou probeer.

Leer uit jou foute

Ons almal maak foute, maak nie saak hoe hoog ons IK is nie. Foute is deel van die lewe. As jy nie foute maak nie, beteken dit dat jy nie probeer nie. Vir wiskunde is dit belangrik om te leer uit jou foute. As jy ‘n som verkeerd het, sit en probeer bepaal waar jou fout lê. Wat het jy verkeerd gedoen, of dalk vergeet toe jy die som gedoen het? Noudat jy weet wat fout gegaan het, moet jy ekstra hard oefen aan daardie som sodat jy nie weer dieselfde fout maak nie. Die beste manier om uit jou foute te leer, is om oefen vraestelle uit te werk.

Ken jou tafels

Wat gaan gebeur as jy ‘n huis bou sonder ‘n fondament? Die huis gaan inmekaar val, kraak of net omwaai. In wiskunde is tafels jou fondament. Wanneer jy toets skryf, en jy ken jou tafels, hoef jy nie tyd of energie te spandeer om eers basiese somme uit te werk nie. Dit maak alles soveel makliker en vinniger as jy jou tafels ken. Flitskaarte en werkskaarte is die beste manier om jou tafels te leer. Sorg dat jy jou tafels op die punte van jou vingers ken as jy wil presteer in wiskunde. Koop ons klaargemaakte flitskaarte wat jy kan uitdruk, of op jou foon kyk.

Shopping cart

1

Subtotal: R100,00

View cartCheckout