As jy ’n Graad 3-kind het wat volgende jaar Graad 4 toe gaan, het jy waarskynlik al gehoor:
“Graad 4 is ’n groot sprong.”
En dan begin die vrae.
Gaan my kind regkom?
Moet hy al sy maaltafels ken?
Hoeveel gaan hy moet leer?
Moet sy nou skielik self opsommings maak?
Wat as my kind stadig lees?
En hoeveel moet ek eintlik help?
Ons werk al baie jare met kinders en ouers, en hierdie bekommernisse kom gereeld op. Die goeie nuus is dat jou kind nie op die eerste dag van Graad 4 skielik alles self hoef te kan doen nie.
Graad 4 is juis die tyd waarin ons kinders begin leer hoe om te leer.
Dit gebeur nie vanself nie. Dit is ’n vaardigheid wat ons vir hulle moet aanleer.
Hier is ’n paar van die vrae wat ouers die meeste oor Graad 4 vra.
Hoekom is die sprong van Graad 3 na Graad 4 so groot?
Graad 4 is die eerste jaar van die Intermediêre Fase en vir baie kinders voel die skooldag skielik anders.
Daar is meer vakinhoud. Daar is meer feite om te onthou. Die vrae begin meer van die kind vereis as bloot om iets te herken of neer te skryf.
’n Kind moet toenemend kan:
- lees én verstaan wat hy lees;
- instruksies onafhanklik volg;
- belangrike inligting uit ’n stuk werk haal;
- feite onthou;
- kennis in ’n toets toepas;
- verantwoordelikheid vir boeke en huiswerk neem;
- en begin voorberei vir toetse.
Dit is dus nie noodwendig dat Graad 4 se werk skielik “verskriklik moeilik” is nie.
Die manier waarop die kind moet werk, verander.
En dit is presies waar sommige kinders aanvanklik sukkel.
Wat moet my kind kan voordat hy of sy Graad 4 toe gaan?
Ouers vra my dikwels of daar ’n soort kontrolelys is wat ’n kind moet kan voltooi voordat hy Graad 4 toe gaan.
Ek sou eerder na ’n paar kernvaardighede kyk.
Jou kind behoort redelik gemaklik te kan lees, eenvoudige instruksies te verstaan, basiese Wiskundebewerkings te doen en toenemend vir kort tydperke onafhanklik te kan werk.
Maar moenie paniekerig raak as alles nog nie perfek is nie.
Graad 4 is steeds ’n leerjaar. Jou kind gaan nie Graad 4 toe omdat hy reeds Graad 4 se werk kan doen nie!
Wat baie belangriker is, is dat daar ’n goeie grondslag is waarop die nuwe vaardighede gebou kan word.
Recommended products
-
Gereed vir Graad 4 Voorbereidingspakket
Original price was: R300,00.R250,00Current price is: R250,00.
Hoe goed moet my kind se maaltafels wees vir Graad 4?
Hieroor voel ek nogal sterk:
Maaltafels moet so goed as moontlik vasgelê word.
Nie omdat ’n kind heeldag in Graad 4 maaltafels gaan opsê nie, maar omdat vermenigvuldiging deel is van groter berekeninge.
As jou kind elke keer moet stop en uitwerk wat 7 × 6 is, gebruik hy baie van sy aandag net om die basiese berekening te doen.
Dan is daar minder “breinkrag” beskikbaar vir die moeiliker deel van die som.
Werk dus gereeld saam met jou kind deur maaltafels, maar hou dit kort.
Vyf of tien minute per dag is gewoonlik baie meer waardevol as ’n lang, uitputtende sessie een keer per week.
Maak dit mondelings. Maak kaartjies. Vra dit wanneer julle in die kar ry. Speel speletjies. Meng die volgorde.
Die doel is uiteindelik vinnige herroeping, nie net om die tafels in volgorde te kan opsê nie.
Recommended products
-
2 tot 12 maal en deel flitskaarte en werkskaarte
Original price was: R200,00.R150,00Current price is: R150,00.
Hoekom sukkel my Graad 4-kind met Wiskunde-woordsomme?
Hierdie een sien ons baie.
’n Kind kan dalk uitstekend bereken:
245 + 187
maar haak heeltemal vas wanneer dieselfde berekening binne ’n paragraaf versteek word.
Dan dink ’n ouer:
“Maar jy kán mos die somme doen!”
Die probleem is dikwels nie die optelling nie.
Die kind moet eers die taal van die probleem verstaan.
Hy moet besluit:
Wat vra die vraag?
Watter inligting is belangrik?
Watter inligting is dalk onnodig?
Moet ek optel, aftrek, vermenigvuldig of deel?
Is daar meer as een stap?
Woordsomme kombineer dus leesbegrip, redenasie en Wiskunde.
Daarom help dit om jou kind te leer om die probleem stadig te ontleed voordat hy begin bereken.
Ons het juis ons Graad 4 Uitdagende Woordsomme ontwikkel om kinders blootstelling te gee aan langer en meer ingewikkelde probleme waar hulle moet dink voordat hulle bereken.
Recommended products
-
Graad 4 Woordsomme Werkkaart
Original price was: R150,00.R110,00Current price is: R110,00. -
Graad 4 & 5 Meetkunde Opsommings
Original price was: R200,00.R160,00Current price is: R160,00.
Hoe kan ek my Graad 4-kind se leesbegrip verbeter?
Leesbegrip word in Graad 4 al hoe belangriker.
En nie net in Afrikaans of Engels nie.
As jou kind later ’n vraag in Natuurwetenskappe, Sosiale Wetenskappe of selfs Wiskunde verkeerd verstaan, beïnvloed leesbegrip daardie vak ook.
Wanneer julle lees, moenie net vra:
**“Wat het gebeur?” nie. **
Vra eerder:
“Hoekom dink jy het dit gebeur?”
“Wat dink jy gaan volgende gebeur?”
“Waar in die teks het jy daardie antwoord gekry?”
“Wat bedoel hierdie woord hier?”
“Vertel vir my hierdie paragraaf in jou eie woorde.”
Dit dwing die brein om aktief met die teks te werk in plaas daarvan om bloot woorde hardop te lees.
As leesbegrip ’n area is wat julle wil inoefen, het ons ook Graad 4 Begripstoetse met memorandums wat spesifiek gebruik kan word vir oefening by die huis.
Recommended products
-
Begripstoets Werkskaarte Graad 4 tot Graad 6
Original price was: R250,00.R110,00Current price is: R110,00. -
E-boekie: Hoe beantwoord ek ‘n begripstoets? Graad 4 tot graad 6
Original price was: R250,00.R110,00Current price is: R110,00. -
Graad 4–6 Begripstoets-Vaardigheidspakket
R110,00
Hoeveel moet ’n Graad 4-kind elke dag leer?
Hier is waar ons soms onnodig druk op kinders plaas.
’n Graad 4-kind hoef nie elke middag vir twee ure agter ’n lessenaar te sit en “leer” nie.
Ek verkies eerder kort, gefokusde werk gereeld.
Tien of vyftien minute waarin ’n kind werklik aktief met die inhoud werk, kan baie meer werd wees as 45 minute waarin hy na ’n boek staar.
Die hoeveelheid sal natuurlik verander wanneer daar ’n toets nader kom.
Die belangrike beginsel is:
Moenie alles vir die aand voor die toets los nie.
As daar Dinsdag ’n toets is, behoort die eerste keer wat die kind die werk sien nie Maandagaand te wees nie.
Begin vroeg. Werk in klein dele. Herhaal.
Dit maak leer baie minder oorweldigend.
Hoe leer ek my Graad 4-kind om vir ’n toets te leer?
Hierdie is moontlik een van die belangrikste dinge wat ’n Graad 4-kind moet begin leer.
Want kinders dink dikwels dat “leer” beteken:
Lees die werk oor en oor.
Maar herkenning en kennis is nie dieselfde ding nie.
’n Kind kyk na die bladsy en dink:
“Ja, ek ken dit!”
Dan maak ons die boek toe en vra:
“Vertel my daarvan.”
En skielik is daar niks.
’n Baie beter manier is:
Lees ’n klein gedeelte.
Maak die boek toe.
Vertel wat jy kan onthou.
Vra jouself vrae.
Skryf sleutelwoorde neer.
Verduidelik dit vir iemand anders.
Gaan kyk wat jy vergeet het.
Probeer weer.
Daardie proses leer die brein om die inligting op te roep, en dit is baie nader aan wat tydens ’n toets moet gebeur.
Moet ’n Graad 4-kind al opsommings kan maak?
Nie noodwendig perfek nie.
Maar Graad 4 is ’n uitstekende tyd om die vaardigheid te begin aanleer.
Die groot fout wat kinders maak, is om byna die hele handboek oor te skryf.
Dit is nie ’n opsomming nie. Dit is kopieerwerk.
Begin eerder deur jou kind te vra:
“Waaroor gaan hierdie paragraaf?”
Dan:
“Wat is die drie belangrikste dinge wat jy moet onthou?”
Dan kan julle sleutelwoorde identifiseer en dié gebruik om ’n korter weergawe te skep.
Later kan kleur, eenvoudige diagramme, breinkaarte en ander tegnieke bykom.
Maar eers moet die kind leer onderskei tussen:
belangrike inligting en ekstra detail.
Dit is een van die vaardighede wat ons in ons Studiemetodes-programme baie doelbewus aanleer.
Hoekom vergeet my kind vandag wat ons gister geleer het?
Hierdie frustrasie ken baie ouers:
Jy sit ’n hele aand met die kind.
Hy ken alles.
Die volgende middag vra jy dieselfde vraag en hy kyk na jou asof hy dit nog nooit in sy lewe gesien het nie.
Dit beteken nie noodwendig jou kind het ’n swak geheue nie.
Die brein vergeet inligting wat dit nie genoeg gebruik nie.
Daarom is herhaling so belangrik.
Maar probeer om nie bloot weer alles vir die kind te lees nie.
Vra eerder die volgende dag weer ’n paar vrae.
En twee dae later weer.
En ’n paar dae daarna weer.
Daardie verspreide herhaling help die brein besef:
“Hierdie inligting is belangrik. Ek moet dit hou.”
My kind verstaan die werk by die huis, maar doen swak in toetse. Hoekom?
Hier kan verskeie dinge gebeur.
Soms het die ouer gedurende die leersessie baie meer gehelp as wat ons besef.
Ons gee leidrade.
Ons vra die vraag op ’n ander manier.
Ons sê: “Dink nou mooi… dit begin met ’n S…”
En uiteindelik kry die kind die antwoord.
Maar in die toets is daardie ondersteuning nie daar nie.
Daarom is dit belangrik dat daar aan die einde van ’n leersessie ’n stadium kom waar jou kind heeltemal alleen moet antwoord.
Ander kinders ken die werk, maar lees die vraag verkeerd.
En sommige kinders raak gespanne, jaag of vergeet hoe om hulle kennis toe te pas.
Moenie dus onmiddellik aanvaar:
“Hy het nie geleer nie.”
Kyk eerder na die toets en probeer vasstel waar die proses verkeerd geloop het.
Dit gee vir jou baie meer waardevolle inligting.
Moet my Graad 4-kind al selfstandig kan leer?
Ja… maar nie noodwendig sonder leiding nie.
Daar is ’n verskil tussen:
“Jy moet nou self leer.”
en
“Ek gaan jou leer hóé om self te leer.”
Ons kan nie van ’n nege- of tienjarige verwag om outomaties te weet hoe om ’n hoofgedagte te identifiseer, ’n opsomming te maak, ’n toets te beplan en homself te toets nie.
Aan die begin kan jy langs jou kind sit.
Later sit jy net naby.
Dan help jy net wanneer hy vasbrand.
Uiteindelik kan hy baie meer alleen doen.
Dit is ’n proses.
Die uiteindelike doel is nie dat Ma of Pa elke aand vir die kind moet leer nie.
Die doel is dat jou kind geleidelik die gereedskap kry om te sê:
“Ek weet wat om te doen wanneer ek moet leer.”
Recommended products
-
Studiemetodes Werkswinkel: In-persoon
Original price was: R2500,00.R1499,00Current price is: R1499,00. -
Aanlyn studiemetodes werkswinkel
Original price was: R2300,00.R999,00Current price is: R999,00.
Hoeveel moet ek my Graad 4-kind met huiswerk help?
Help met die proses, maar probeer om nie die werk oor te neem nie.
Daar is ’n eenvoudige vraag wat ek graag wil hê ouers moet hulself vra:
“Wie se brein werk nou die hardste – myne of my kind s’n?”
As jy die vraag lees, verduidelik, die antwoord voorstel en dan help skryf, het jou brein waarskynlik die meeste van die werk gedoen.
Gee eerder ’n leidraad.
Vra:
“Wat dink jy moet jy eerste doen?”
“Waar kan jy die antwoord kry?”
“Lees die vraag weer vir my.”
“Verduidelik wat jy dink dit beteken.”
Ons wil hê die kind moet dink.
Selfs al neem dit ’n bietjie langer.
Hoe help ek my Graad 4-kind om beter te konsentreer?
Begin eenvoudig.
Nie elke konsentrasieprobleem het ’n ingewikkelde oplossing nodig nie.
Maak seker die werkarea is relatief rustig.
Sit die televisie af.
Sit die selfoon of tablet eenkant indien dit nie vir die werk nodig is nie.
Werk vir ’n kort, realistiese tyd.
Gee ’n klein pouse.
En gee vir die kind ’n duidelike taak.
“Gaan leer jou Natuurwetenskappe” is groot en vaag.
“Lees hierdie twee paragrawe en kom vertel vir my drie dinge wat jy onthou” is baie meer hanteerbaar.
Kinders konsentreer dikwels beter wanneer hulle presies weet waar die begin en einde van ’n taak is.
Wat doen ek as my kind oorweldig raak met Graad 4 se werk?
Breek die berg op in klippies.
As jou kind na ses bladsye leerwerk kyk, voel dit enorm.
Moenie sê:
“Ons moet vanaand alles klaarmaak nie.”
Begin met:
“Kom ons doen net hierdie eerste blokkie.”
Wanneer dit klaar is, doen die volgende een.
Gebruik ’n eenvoudige plan:
Vandag doen ons deel 1.
Môre hersien ons deel 1 en doen deel 2.
Daarna toets ons albei.
Wanneer ’n kind kan sien dat daar ’n plan is, voel die werk gewoonlik reeds meer beheerbaar.
Hoe weet ek hoe my kind die beste leer?
Hierdie is vir my ’n baie belangrike vraag.
Kinders verskil.
Een kind moet iets sien.
’n Ander een moet dit hardop verduidelik.
Een kind hou van kleur en diagramme.
’n Ander een wil eerder die werk in ’n logiese volgorde verstaan.
Dit beteken nie ons moet ’n kind beperk tot nét een manier van leer nie.
Maar wanneer jy verstaan hoe jou kind inligting die maklikste verwerk, kan jy baie slimmer met leer werk.
Dit is waarom ons ook assesserings ontwikkel het wat ouers en kinders help om meer insig te kry in hoe die kind leer en inligting benader.
Recommended products
-
Aanlyn Leerstyl Assessering Laerskool
Original price was: R200,00.R150,00Current price is: R150,00. -
Brein dominansie voorkeur assessering Laerskool
Original price was: R200,00.R150,00Current price is: R150,00.
Die belangrikste ding wat ek vir ’n Graad 4-ouer wil sê
Moenie probeer om gedurende die Desembervakansie vir jou kind die hele Graad 4-kurrikulum vooruit te leer nie.
Jy hoef nie.
Help eerder om die fondament sterk te maak.
Lees.
Oefen maaltafels.
Praat oor wat julle lees.
Laat jou kind dinge in sy eie woorde verduidelik.
Bou ’n eenvoudige roetine.
Leer hom dat dit oukei is om iets nie die eerste keer te verstaan nie.
En wanneer Graad 4 begin, fokus nie net op wat jou kind moet leer nie.
Begin hom ook leer hoe om te leer.
Daardie vaardigheid gaan hom nie net deur Graad 4 help nie.
Dit gaan hom deur die res van sy skoolloopbaan volg.
Het jou Graad 4-kind ’n bietjie ekstra ondersteuning nodig?
By StudieMetodes fokus ons nie net daarop om vir kinders nóg werk te gee nie. Ons wil hulle help om die vaardighede te ontwikkel wat hulle nodig het om die werk beter te verstaan, te organiseer, te onthou en toe te pas.
Ons het onder andere:
- Studiemetodes-programme wat kinders leer hóé om te leer;
- Leer- en breinprofielassesserings om beter te verstaan hoe ’n kind inligting verwerk;
- Graad 4 digitale leerhulpbronne vir verskillende vakke;
- Graad 4 begripstoetse vir leesbegripoefening;
- Uitdagende Wiskunde-woordsomme om redenasie en probleemoplossing te ontwikkel;
- Flitskaarte, opsommings en oefenmateriaal vir verdere hersiening;
- en Brainiac, ons digitale leerhulpmiddel wat kinders help om aktief met hulle skoolwerk te werk.
Jy hoef ook nie alles te gebruik nie.
Kyk eers waar jou kind ondersteuning nodig het en kies dan die hulpmiddel wat by daardie behoefte pas.
Recommended products
-
100 Afrikaanse Idiome Graad 4-12
Original price was: R200,00.R150,00Current price is: R150,00. -
Brein dominansie voorkeur assessering Laerskool
Original price was: R200,00.R150,00Current price is: R150,00. -
Building Little Bookworms: Helping Children Ages 5-8 Thrive in Reading – Ebook
Original price was: R300,00.R130,00Current price is: R130,00. -
Gereed vir Graad 4 Voorbereidingspakket
Original price was: R300,00.R250,00Current price is: R250,00. -
Aanlyn Leerstyl Assessering Laerskool
Original price was: R200,00.R150,00Current price is: R150,00.
Tags: Graad 4 huiswerk, Graad 4 leesbegrip, Graad 4 maaltafels, Graad 4 wenke vir ouers, hoe leer ’n Graad 4 kind vir ’n toets, hoe om Graad 4 kind te leer, my kind gaan Graad 4 toe, voorbereiding vir Graad 4, wat moet ’n Graad 4 kind kan












