En hoekom kinders sukkel om take te begin
Vermy jou kind take… selfs wanneer hulle weet hulle móét dit doen?
Jy herinner hulle.
Jy help.
Jy raak dalk selfs gefrustreerd.
En steeds… gebeur daar niks.
Die werk lê daar.
Hulle weet dit moet gedoen word.
Maar hulle begin net nie.
Vir ouers lyk dit soos luiheid of ongehoorsaamheid.
Vir die kind voel dit heeltemal anders:
👉 Oorweldiging. Angs. Vasgevang in ‘n onvermoë om aan die gang te kom.
Dis nie luiheid nie — dis hoe die ADHD brein werk
ADHD gaan nie net oor gebrek aan aandag nie. Dis nie net die hiperaktiewe kind wat nie kan stilsit nie.
Dit beïnvloed hoe die brein:
- fokus
- beplan
- emosies bestuur
- en veral… take begin
Hierdie vaardighede staan bekend as uitvoerende funksies.
Wanneer dit nie optimaal werk nie, gebeur iets belangrik:
👉 Jou kind weet wat om te doen…
👉 maar hulle kan nie begin nie
Hoe taakvermyding voel
As iemand wat self elke dag met ADHD saamleef, is dit moeilik om vir neurotipiese breine te verduidelik wat die impak van ’n gebrek aan die vermoë om ’n taak te begin, op die brein en emosies het.
Dink aan ’n eenvoudige taak…
Soos om wasgoed te was.
Jy gaan haal die klere, sorteer dit, sit die masjien aan en laat dit was. Daarna sit jy dit in die droër of hang dit op om droog te word, en uiteindelik vou jy dit op en pak dit weg.
Dit klink eenvoudig. Dit klink maklik.
Maar vir ’n ADHD-brein voel selfs ’n eenvoudige taak soos hierdie soos ’n reuse uitdaging.
Dit bring ’n gevoel van oorweldiging.
Soos om by die deur van ’n vliegtuig te staan en te moet uitspring wanneer jy hoogtevrees het.
Jy weet presies wat jy moet doen.
Jy wíl dit doen.
Maar jy kan jouself nie sover kry om daardie eerste stap te neem nie.
Jy kan dieselfde sien met huiswerk.
’n Kind sit by die tafel.
Die boek is oop.
Die pen is in die hand.
Alles is reg om te begin.
Maar niks gebeur nie.
Die taak lyk nie vir ander mense moeilik nie — dit is dalk net ’n paar vrae.
Maar vir die ADHD-brein voel dit soos te veel.
Waar begin ek?
Wat as ek dit verkeerd doen?
Wat as ek nie klaar kry nie?
Hierdie gedagtes gebeur vinnig, amper onbewustelik.
En dan gebeur dit:
👉 Die kind kyk rond
👉 Raak stil
👉 Of doen enigiets anders… net om nie te begin nie
Nie omdat hulle nie wil nie.
Maar omdat hulle brein vasgevang is tussen:
👉 “Ek moet begin”
en
👉 “Ek kan nie begin nie”
Die emosionele kant
Wanneer jy weet jy moet iets doen, maar jy kan nie, word jou emosies en gedagtes gevul met vrees en mislukking. Met tyd ervaar kinders:
- frustrasie
- om “agter” te voel
- vrees vir foute
- skaamte
Dit skep ’n siklus:
👉 Taak voel moeilik
👉 Kind vermy dit
👉 Hulle raak agter
👉 Hulle voel slegter
👉 Vermyding neem toe
Hoekom veroorsaak ADHD taakvermyding?
1. Uitvoerende disfunksie
Kinders met ADHD sukkel met uitvoerende funksies — die brein se “bestuurstelsel”.
Dit sluit in:
- beplanning
- organisasie
- prioritisering
- en veral… om te begin
’n Taak wat vir ander eenvoudig lyk, kan vir ’n ADHD-brein:
- te groot voel
- te vaag wees
- of onduidelik wees waar om te begin
👉 Die resultaat:
Die kind sit en kyk na die werk… maar kan nie die eerste stap neem nie.
2. Die brein soek vinnige beloning
Die ADHD-brein is geneig om onmiddellike beloning te verkies bo langtermyn resultate.
Dit beteken:
- Skoolwerk = stadige, uitgestelde beloning
- Speletjies / skerms = onmiddellike beloning
Die brein kies dus natuurlik die makliker, meer stimulerende opsie.
👉 Dis nie ongehoorsaamheid nie —
dis hoe die brein gemotiveer word.
3. Laer motivering (dopamien)
Dopamien speel ’n groot rol in:
- motivering
- fokus
- en die gevoel van “beloning”
By ADHD is dopamienvlakke dikwels laer of minder stabiel.
Dit beteken:
- take voel minder interessant
- dit is moeiliker om momentum te bou
- en baie moeiliker om net te begin
👉 Wat vir ander maklik voel, verg vir die ADHD-brein baie meer energie.
4. Emosionele oorlading
Taakvermyding is nie net ’n denkprobleem nie — dit is ook emosioneel.
Kinders kan voel:
- oorweldig
- angstig
- bang om foute te maak
- of selfs skaam oor vorige mislukkings
Perfeksionisme speel ook ’n rol:
👉 “As ek dit nie perfek kan doen nie, begin ek eerder glad nie.”
👉 Die brein probeer homself beskerm teen ongemak —
en vermyding word die uitweg.
💡 Wat ouers kan doen
1. Maak take baie klein (mikro-stappe)
Vir ’n ADHD-brein is “Doen jou huiswerk” te groot en vaag.
Breek dit op in duidelike, klein aksies:
❌ “Doen jou huiswerk”
✅ “Skryf net die eerste som se antwoord”
✅ “Lees net die eerste paragraaf hardop”
Jy kan selfs verder gaan:
👉 “Kom ons skryf net jou naam bo-aan die bladsy”
Die doel is nie om die hele taak klaar te kry nie —
👉 die doel is om die eerste beweging te kry.
2. Fokus op begin (nie klaarmaak nie)
Die grootste struikelblok is nie die werk nie — dis die begin.
Gebruik ’n kort timer:
👉 “Kom ons werk net vir 5 minute”
Belangrik:
- Hou by die tyd
- Moenie sê “kom ons doen nog” as die tyd op is nie (dit bou vertroue)
Wat gebeur dikwels:
👉 Sodra die kind begin, hou hulle aan
Maar selfs al stop hulle:
👉 Jy het momentum begin bou
3. Sit saam met jou kind (body doubling)
Kinders met ADHD werk beter wanneer iemand fisies teenwoordig is.
Jy hoef nie te help nie.
Jy kan:
- langs hulle sit en jou eie werk doen
- ’n boek lees
- op jou laptop werk
👉 Jou teenwoordigheid help die brein om gefokus te bly
Jy kan ook sê:
👉 “Ek sit net hier saam met jou totdat jy begin”
Dit verminder:
- oorweldiging
- alleenheid
- en uitstel
4. Laat hulle verduidelik (aktiveer die brein)
In plaas daarvan om te sê:
❌ “Lees weer jou notas”
Sê:
👉 “Verduidelik vir my wat jy tot dusver verstaan”
Of:
👉 “Vertel vir my wat hierdie vraag vra”
Dit doen 3 dinge:
- aktiveer denke
- bou selfvertroue
- verbeter geheue
As hulle nie weet nie:
👉 Begin saam
👉 Vra vrae
👉 Bou dit stadig op
5. Verminder druk en verander jou taal
Hoe jy praat maak ’n groot verskil.
❌ “Jy moet nou begin”
❌ “Hoekom doen jy dit nie?”
Hierdie verhoog angs → en blokkeer begin nog meer
Gebruik eerder:
👉 “Kom ons begin saam”
👉 “Ons gaan dit stap vir stap doen”
👉 “Jy hoef nie alles nou reg te kry nie”
Fokus op:
- klein wenne
- poging
- nie perfeksie nie
6. Skep ’n “begin-roetine”
ADHD-breine hou van patrone en voorspelbaarheid
Help jou kind met ’n vaste begin-struktuur:
Byvoorbeeld:
- Sit boeke reg
- Skryf naam
- Lees eerste vraag
- Begin
As hierdie roetine elke dag dieselfde is:
👉 word dit met tyd makliker om te begin
7. Verwyder onmiddellik dinge wat aandag kan aftrek
Moenie wag dat hulle fokus nie — skep die omgewing.
Voor werk begin:
- sit die foon weg
- skakel TV af
- hou net nodige boeke op die tafel
👉 Minder keuses = minder oorweldiging
🎓 Vir kinders
As jy sukkel om te begin:
👉 Jy is nie lui nie
👉 Jou brein werk net anders
Begin klein.
Gebruik ’n timer.
Vra iemand om saam te sit.
🌱 Laaste gedagte
Wanneer ons ADHD verstaan, verander alles.
👉 Van “Hoekom probeer jy nie?”
👉 na “Wat maak dit moeilik om te begin?”
Wil jy weet hoe jou kind die beste leer?
Doen die Leerstyle Vraelys:
Recommended products
-
Aanlyn Leerstyl Vraelys Hoërskool
Add to cartR150,00 -
Aanlyn Leerstyl Vraelys Laerskool
Add to cartOriginal price was: R200,00.R150,00Current price is: R150,00.





