Die lockdown homeschool oorlog

lockdown

Aan die begin was die idee van ‘n lockdown nie te sleg nie.  Spandeer bietjie kwaliteit tyd saam met die familie.  Knap die huis op en doen dinge wat jy nooit tyd voor kry nie.  Alles het net te wonderlik geklink.  Maar niemand het gewaarsku van die lockdown homeschool oorlog nie. 

 
Ons gaan sit by die tafel, reg om te begin met die klassie.  Die skool is so oulik om werk te stuur.  Tot jy uitvind daar is goed om te print.  Natuurlik is die printer se ink klaar en nou kan ek nie soos gewoonlik skelm by die werk print nie.  
 
Uiteindelik is ons reg om te begin.  Ek lees saam met Boeta deur sy werk.    Hy wieg wild heen en weer op sy stoel en val met ‘n geknal op die vloer.  Sussie en kleinboet lag hulleself ‘n papie.  Ons probeer weer.  “Eks dors!” laat kleinboet hoor.  Natuurlik is die hele span skielik dors.  Ons kry koeldrank en probeer weer.  “Boeta, maak solank oop jou boek en kry jou penne” beveel ek.  Boeta skarrel en maak sy boek oop.  Ek wou nog waarsku dat hy pasop vir sy glas koeldrank, maar dis te laat.  Boeta se hele boek is nat en sussie se penne is papnat en taai.  Ons (ek) maak skoon en ons probeer weer.  
 
Ek verander van taktiek en probeer eerder vir sussie aan die werk kry terwyl pa oorneem by boeta.  “Wag mamma, ek sorteer net my penne uit” laat sussie van haar hoor. Sy pak haar hele pennesakkie uit en begin hopies maak .  Eers is dit al die kleure bymekaar.  Toe besluit sy dis beter om die penne en die potlode te skei en begin van voor af.  Ek vloek saggies in my kop en beweeg solank aan na kleinboet  terwyl sussie georganiseerd raak.  
 
Intussen het boeta besluit dis ‘n goeie idee om bo-op die tafel te klim en sussie se hopies penne en potlode deurmekaar te maak.  Sussie skree en pappa gryp vir boeta aan die arm.  “Sit nou stil!” beveel hy.  Boeta se lip begin bewe.  
 
Kom ons probeer kleinboet se lees les.  Ek stel voor dat ek die paragraaf lees en dan kan kleinboet probeer.  Na die eerste sin kan ek sien kleinboet is al klaar op ‘n ander planeet.  “Konsentreer nou!” gil ek.  Ons begin weer van voor af.  “Wat maak so?” vra kleinboet.  Ek vloek weer saggies.  “Luister nou hoe ek lees!” gil ek weer.  Pa gee kleinboet ‘n vuil kyk en ons probeer weer.  
 
Terwyl sussie steeds besig is om te organiseer, help pa vir boeta met wiskunde.  Pa verduidelik die somme trots en met gesag.  Boeta, wat nie meer sit nie maar langs pa staan, laat val met ‘n “dis nie hoe juffrou dit doen nie”.  Pa word bloedrooi en ek kan sien hy vloek in sy kop.  
 
Kleinboet is steeds gepla met een of ander geluid wat hy hoor.  Ek stuur hom maar buite toe om te gaan ondersoek instel terwyl ek en sussie begin met wetenskap.  Sy moet ‘n prentjie teken van ‘n blaar.  Ek skat dit sal so 5 minute vat en terwyl sy besig is gaan ek solank uit om kleinboet te roep.  Hy het uitgevind die geluid wat hy hoor is die wind wat takke waai teen die dak. Hopelik kom hy nou tot ruste.  
 
Terug by die tafel het sussie nog nie begin om die blaar te teken nie.  Sy is nie seker watter potlode sy wil gebruik nie.  Toe sy uiteindelik tot ‘n besluit kom besef sy die potlode is nie skerp genoeg volgens haar smaak nie.  10 minute later is die potlode skerp en begin sy teken.  Nadat sy 7 keer haar blaar uitgevee en oor begin het, is ons uiteindelik klaar.  
 
Ek vloek weer saggies in my kop terwyl pa elke kas deursoek vir moontlike wyn of enige iets om bietjie die stres te dokter.  
 
Ek en pa besluit more is nog ‘n dag en laat die kleinspan vry.  Lockdown homeschooling is nie vir sissies nie.  
 
Sterkte aan elke ma en pa daar buite.  En aan elke onderwyser wil ons net sê ons waardeer julle baie meer!
 
 
 
Please follow and like us:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *