Introverte: Feite en mites

As ‘n introvert kind was dit vir my heerlik om tyd alleen te spandeer.  Dit was die lekkerste om te dagdroom en my verbeelding vrye teuls te gee terwyl ek Lego bou, teken, of boeke lees.  Soos wat ek ouer geword het was dit lekker om te sosialiseer, maar net tot op ‘n punt.  Dan moes ek my batterye alleen herlaai deur videospeletjies te speel of musiek te luiser.  Ander kinders kon ure lank speel in groepe, so ek het gevoel ek is ‘anders’.  Totdat ek die konsep van introversie en ekstroversie ontdek het.  Daar bestaan baie mites oor introverte en hulle vermoëns.  Hier is ‘n paar:

Mite: Introverte is volgers, nie leiers nie

In ons samelewing bestaan die mite dat die persoon wat die meeste praat of die “grootste mond het in die vertrek”, die beste leiers is.  Maar wat is ‘n goeie leier?  Hulle moet kan lei en kan inspireer.  Hulle moet hulle span verstaan en weet hoe om elkeen te motiveer.  Hulle moet kalm kan bly onder druk en nie die “limelight” najaag nie.  Feit is dat introverte baie goeie leiers uitmaak weens die volgende:  

  1. Introverte is kalm en rustig wanneer ander kan oorreageer.
  2. Introverte is goeie luisteraars.  Leiers moet kan luister na ander en oop wees vir ander se idees.  Hulle moet ruimte hê vir ander en besef dat outokratiese denke en optrede hul span se moed breek.  
  3. Introverte hou nie van mikro-bestuur nie.  Vir hulle gaan dit oor die doel en nie oor die “limelight” nie.  Hulle is goed daarmee om ander te lei om hul kreatiewe idees te ontwikkel.
  4. Introverte lei deur dade en nie woorde nie.  Waar sommige mense hul span sal aansê om betyds te wees vir werk, maar self gereeld laat is, sal die introvert altyd lei deur voorbeeld.  Hulle oog is op die prys en as daar ‘n probleem is, sal hulle deurdruk tot hulle ‘n oplossing kry.  Soos Albert Einstein een maal gesê  het, “It’s not that I’m so smart, it’s that I stay with problems longer.” 
  5. Introverte soek betekenisvolle gesprekke.  Daarom kan hulle hul span verstaan en lei en motiveer op ‘n ander vlak want hulle verstaan hulle span se psige en denkwyses.  

Mite: Introverte het swak sosiale vaardighede omdat hulle eerder tyd op hulle eie spandeer.

Introverte het oor die algemeen ‘n klein vriendekring en hou daarvan om tyd alleen te spandeer.  Dit beteken nie hulle het swak sosiale vaardighede nie, maar eerder dat hulle emosionele batterye herlaai word gedurende alleentyd.  Hulle haat ook “small talk” en wil eerder een of twee vriende hê met wie hulle betekenisvolle gesprekke kan hê.  Dit is wel belangrik dat ouers geleenthede skep vir die introvert om sosiaal te verkeer en ‘n balans tussen alleentyd en tyd saam met ander te handhaaf.  

Mite: Introverte vra nie baie vrae in die klas nie, wat beteken dat hulle nie so intelligent soos hulle ekstrovert klasmaats is nie.

Intelligente persone vra gewoonlik baie vrae en wil dinge verstaan.  Maar vir ‘n introvert is dit moeilik om hul hand op te steek in die klas en ‘n vraag te vra voor al die ander kinders.  Dit beteken nie dat hulle nie baie vrae in hulle binneste het nie.  Introverte leef binne toe.  Hulle analiseer en vra en probeer verstaan, maar sal dit nie noodwendig verbaliseer voor ‘n groot groep nie.  Oor die algemeen in introverte baie intelligent en analities 

Feit: Introverte floreer met aanlyn klasse

Introverte het nie ander om hulle nodig om hard te werk nie.  Hulle het ‘n interne dryfveer en floreer in situasies waar daar nie baie ander kinders is wat hulle aandag kan aftrek nie.  Waar ekstroverte sukkel in die aanlyn klaskamer, is dit baie lekker vir introverte.  

Feit: Introverte het 'n soeke na die dieper dinge in die lewe

Introverte kan ouers mal maak met hulle vrae.  Hulle wil dinge verstaan en het ‘n soeke om dinge op ‘n dieper vlak te ondersoek.  Hulle is diep denkers en baie analities.  Hulle het gewoonlik ‘n onblusbare soeke na kennis.  Introverte is ook baie kreatief en skeppend.

Hoe hanteer ek my introvert kind?

Vir ekstrovert ouers kan dit soms moeilik wees om hul introvert kinders te verstaan.  Hoekom wil hulle nie hordes maats hê nie?  Hoekom wil hulle rekenaar speletjies speel en in hulle kamer wees eerder as saam met maats?  

Introverte het ruimte nodig en wil voel dat hulle verstaan word.  Soos wat hulle ouer word kan hulle diep gesprekke met hulle ouers voer.  Maar introverte kan ook baie humeurig raak as hulle nie genoeg alleen tyd het nie, of as hulle voel dat hulle nie verstaan word nie.  Vir ouers is dit belangrik om te verstaan dat hul introvert kind sy batterye alleen moet  herhaai.  Gee hom ruimte en moet hom nie dwing om heeldag sosiaal te verkeer nie.  Ontdek sy wêreld.  Speel saam met hom speletjies en lees na oor sy belangstellings.  Moenie te hard op hom wees nie.    Beloon eerder as straf.  

Soos wat introverte ouer word, ontwikkel hulle nuwe vaardighede.  Hulle leer nuwe dinge en ontdek hoe om suksesvol te leef in ‘n wêreld vol ekstroverte.  En onthou een ding.  Daar is niks fout met jou omdat jy nie ‘n ekstrovert is nie. 

study motivation

Shopping cart

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping