Eksamenhulp: Tydsbestuur en beplanning

“A plan is what, a schedule is when. It takes both a plan and a schedule to get things done.”

Peter Turla

Tydsbestuur en beplanning

studiemetodes

Tydsbestuur en tydsbeplanning is een van die belangrikste vaardighede wat ‘n mens kan aanleer.  Navorsing gedoen deur die Universiteit van Pennsylvania het bevind dat self-dissipline, die hoof faktor in tydsbestuur, ‘n beter voorspeller is van ‘n leerder se sukses as wat sy IK is.  Skoolgaande kinders wat nie die vermoë het om by ‘n skedule te hou nie, gaan sukkel met skoolprestasie en met die eise van die lewe soos wat hulle ouer raak.  Dus al is jou IK hoog, maar jy weet nie hoe om jou tyd te bestuur nie, gaan jy nie jou volle potensiaal bereik nie.

Tydsbestuur is iets wat aangeleer kan word vanaf ‘n baie jong ouderdom.  Dis ‘n absolute noodsaaklike lewensvaardigheid.  Met skoolwerk is tydsbestuur van kritiese belang.  Die meeste ouers wat hul kinders na ons toe bring vir studiemetodes noem dat tydsbeplanning en tydsbestuur ‘n baie groot probleem in hul huishouding is.  Hoe kan ‘n mens jou kind leer om sy of haar tyd beter te bestuur?

Verstaan die verskil tussen wat belangrik is en wat dringend is.

Om goeie tydsbestuur te kan doen moet jy weet wat die verskil is tussen wat belangrik is en wat dringend is.  Baie volwassenes ken nie die verskil nie en hul lewens word soos ‘n hamster wat op ‘n wieletjie hardloop.  Jy is heeltyd besig maar jy kom nerens nie.  So wat is die verskil?

Belangrike dinge is dit wat ons help om ons lewens te verbeter en ons doelwitte te bereik.  Dit is belangrik om jou tande te borsel twee keer ‘n dag, om te bad en om jou huiswerk te doen elke dag.  Dringend verwys na iets wat jou onmiddellike aandag vereis.  Dringend is nie altyd belangrik nie.  En soms kan ons onbelangrike goed as dringend beskou en dit maak dat ons nie by die eintlike belangrike dinge uitkom nie.  Help jou kind om die verskil te verstaan. 

studie metodes

Hoe leer ek tydsbestuur vir my kind?

Stel ‘n voorbeeld.  As daar elke oggend ‘n bakleiery in die huis is want almal is laat, gaan dit nie net almal se vrede steel nie, maar dit stel ook ‘n slegte voorbeeld van hoe om sinvol te beplan en tyd te bestuur.  Daar is sekere dinge wat belangrik is en wat elke oggend gedoen moet word, soos ontbyt eet, aantrek, tande borsel en gesig was.  Met die regte tydsbeplanning en tydsbestuur kan dinge baie rustiger verloop in die oggend.

Maar hoe leer jy jou kind om al daardie dinge te doen binne ‘n sekere tydsraamwerk?

Tegniek 1: Glashouer en klippe

Wat het jy nodig?

  1. ‘n Glashouer. 
  2. Verskillende grootte klippies
  3. Verskillende kleure verf om die klippies mee te verf

Sit saam as ’n gesin en werk deur die dinge wat elke dag gedoen MOET word soos tande borsel, bad en eet.  Kry ‘n groot klip vir elkeen van daardie belangrike, daaglikse dinge en verf elke groot klip dieselfde kleur.   

Maak dan ‘n lys van dinge rondom skool wat elke dag gedoen moet word.  Soos huiswerk, opsom, lees en skooltas pak.  Gebruik kleiner klippies vir elkeen van daardie take en verf dit dieselfde kleur.

Naskoolse aktiwiteite soos sport en kultuur word deur dieselfde grootte klippies verteenwoordig, net in ‘n ander kleur.

Die kleinste klippies verteenwoordig rustyd of “plesier”.  Dit sluit in tv kyk, speletjies speel ens. 

Die doel van die klippies is om die houertjie aan die einde van die dag vol te maak met die klippe.  As hy tande geborsel het, sit hy ‘n groot klippie in die houer.  Dieselfde met bad en eet.  Dan in die middag as hy klaar is met sy huiswerk kan hy die huiswerk klippie in die houer sit.  Dan kom die opsom klippie en die naskoolse aktiwiteit klippie.  Dan ook die rustyd klippies.  Aan die einde van die dag moet al die klippies in die houer wees.  As daar ‘n klippie is wat nie daar is nie, moet hy refleksie doen en bepaal hoekom hy nie by daardie aktiwiteit uitgekom het nie en moet daar geoefen word tot hy dit regkry om by alles uit te kom. 

Tegniek 2: “Timer” of stophorlosie

Die ideale studiesessie bestaan uit ‘n halfuur se gefokusde leer gevolg deur ‘n 15 minute ruspose.  Gebruik ‘n stophorlosie of ‘n sand “timer” om die tyd te meet.  Die stophorlosie leer kinders om hul tyd beter te gebruik en om meer te bereik in daardie tydsperiode.  Die stophorlosie help ons om meer gefokus te werk en bevorder kwaliteit studie tyd.  

Tegniek 3:  Studie plakkaat

Wat het jy nodig?

  1. Groot plakkaat
  2. Liniaal & potlood
  3. Verskillende kleure “Sticky notes”

Die doel van hierdie aktiwiteit is om die tyd beter te beplan vir jou huiswerk en opsommings. Neem die plakkaat en stel ‘n studie rooster op vir elke dag deur kolomme te skep vir al die dae van die week.  Trek kolomme met die liniaal en potlood.  Die kolomme moet breed genoeg wees vir 1 sticky note en lank genoeg vir tot 10 sticky notes.  Skryf die dag van die week neer bo elke kolom.  Sit saam op ‘n naweek en werk deur die week wat kom se beplanning.   

Huiswerk word verteenwoordig deur 1 kleur stickynotes.  Kry dan verskillende kleure vir elkeen van jou ander vakke.  Jy kry waarskynlik elke dag huiswerk, so plak by elke dag ‘n stickynote met die woord huiswerk op geskryf.  Na huiswerk is dit tyd vir opsom.  Die ideaal is om elke dag die werk wat jy by die skool gedoen het, op te som.  Maar as jou skedule te besig is, maak tyd oor ‘n naweek om op te som.  Sodra jy klaar is met jou huiswerk, haal die sticky note van die bord/plakkaat af.  Soos wat jy klaar maak met elke vak se opsommings, haal die sticky notes af.  Teen Sondag moet jou bord/plakkaat leeg wees sodat jy kan begin beplan vir die week wat kom.   

Tydsbeplanning kan nie toegepas word sonder dat kinders leer hoe om te skat hoe lank ‘n potensiele aktiwiteit gaan vat om te voltooi nie.  Hy moet kan skat hoe lank dit hom gaan vat om sy huiswerk en opsommings te voltooi ten einde behoorlike tydsbeplanning te doen.  Sekere aktiwiteite leer kinders om te beplan en om volgens ‘n struktuur te werk.  Hierdie aktwiteite sluit in:

  • Lego;
  • Legkaarte;
  • Skaak;
  • Sudoko;
  • Jenga;
  • Scrabble;
  • Minecraft;
  • Fortnite.

Vir nog praktiese wenke om beter tydsbeplanning te doen, woon een van ons studiemetode werkswinkels by.  

“The most efficient way to live reasonably is every morning to make a plan of one’s day and every night to examine the results obtained.”

Alexis Carrel

Shopping cart

1

Subtotal: R75,00

View cartCheckout