‘n Slegte rapport is nie die einde nie.

“Success is not final, failure is not fatal: it is the courage to continue that counts.” – Winston Churchill

Nie een van ons hou van slegte nuus nie.  Nog minder om ‘n rapport te kry wat nie is wat ons verwag het nie.  Dalk het jy hard gewerk en jou beste gegee, of dalk het jy bietjie slap gelê met jou skoolwerk.  Wat ook al gebeur het, dis nooit lekker om ‘n slegte rapport te kry nie.  Maar dis nie die einde van die wêreld nie, al voel dit so.  Die belangrikste is om op te staan en volgende keer beter te doen.  

Ek het so hard geleer, maar steeds sleg gedoen! Wat nou?

Wanneer ‘n mens weet jy het hard geleer en jou beste gegee, maar jy kry nog steeds slegte punte, kan dit die wind uit jou seile haal.  Jy kan voel jy is nie slim genoeg nie, of jy het nie die vermoë om goed te doen nie.  Jy kan voel dat jy maar met min tevrede moet wees, want maak nie saak wat jy doen nie, jou punte bly swak.  ‘n Slegte rapport wanneer jy weet jy het hard gewerk kan jou selfbeeld baie negatief beinvloed en jou selfvertroue die afgrond in stuur.  

Leer slimmer, nie harder

Somtyds kan jy vir dae aaneen leer tot laat in die nag, en dan nog vroeg opstaan om verder te leer, maar jou punte is steeds nie wat jy verwag het nie.  Beteken dit dat jy nie slim is nie?  Of beteken dit dat jy net nie reg geleer het nie?  Hier is ‘n paar dinge wat jy kan doen om slimmer te leer.  

Gebruik jou leerstyl

Jou leerstyl het ‘n baie belangrike invloed op hoe jy moet leer.  Jy kan vir ure aaneen leer, maar steeds sleg doen as jy nie leer volgens jou leerstyl nie.  Daar is 3 tipes leerstyle:

  1. Ouditief
  2. Visueel, en
  3. Kineties

Gebruik jou leerstyl tot jou voordeel.  As jy ‘n visuele leerder is, sorg dat jy genoeg kleure en prente gebruik in jou opsommings.  As ouditiewe leerder moet jy hardop leer en met jouself praat.  Kinetiese leerders moet beweeg wanneer hulle leer.  

Om uit te vind wat jou leerstyl is, doen ons aanlyn leerstyl toets, of woon ons studiemetodes werkswinkel by (aanlyn of een-tot-een). 

Beplan jou tyd beter

Een van die grootste redes vir swak punte is omdat jy nie slim genoeg beplan het nie.  Die dag voor die eksamen/toets moet jy net jou werk hersien.  Dan moet jou opsommings lankal klaar wees en jy moes al ‘n paar keer deur jou werk gegaan het.  Die dag voor die tyd is net ‘n verfrisser om alles weer deur te gaan.  

Moenie jou slaapgewoontes verander nie

Om die aand voor jou toets/eksamen tot laat te leer en dan die volgende oggend vroeg op te staan om verder te leer, gaan nie vir jou beter punte gee nie.  Inteendeel gaan dit jou punte negatief beinvloed want jy gaan moeg wees en jou liggaam gaan deurmekaar wees.  Die moegheid gaan jou geheue affekteer en jy gaan makliker “blank slaan” wanneer jy skryf.  Beplan eerder jou werk so dat jy die dag voor die tyd net weer rustig deur jou werk gaan.  

Memoriseer op die regte manier

Een van die groot redes hoekom jy nie goed doen in ‘n toets of eksamen nie, is omdat jy nie genoeg gememoriseer het nie.  Die meeste kinders lees net deur hulle werk en verwag dan dat hulle alles moet onthou.  Dit werk dalk in die laer grade, maar dit raak al hoe moeiliker soos wat jy ouer word.  Jou werk moet herhaal word en gememoriseer word volgens jou leerstyl.  Sodra jy die werk kan verduidelik sonder om op jou opsommings te kyk, weet jy dat jy reg is om te gaan toets skryf.  

Ontdek hoe om reg te memoriseer deur ons studiemetodes werskwinkel by te woon.  

Wees positief

‘n Positiewe houding speel ‘n groot rol in sukses.  Wanneer jy glo in jouself en jou vermoë om suksesvol te wees, kan jy beslis goeie punte behaal.  ‘n Negatiewe houding maak alles moeiliker.  As jy voel dat jy wil moed opgee, staan op en gaan aan.  Praat positief met jouself en werk slim.  Beplan jou tyd reg en kry genoeg rus.  Sukses is in jou hande.  

“If you believe it, you can achieve it”

Leave a Reply

Shopping cart

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping