woman in pink shirt sitting by the table while smiling

10 Wenke om die perfekte studeer area te skep

Wanneer jy leer of huiswerk doen, is dit belangrik dat jy op ‘n plek leer waar jy gemaklik is en waar jy die maksimum waarde uit jou studietyd uit kry. Hier is 10 wenke om die perfekte studeer area te skep.

1. Skep privaatheid

Jou leer area moet van so aard wees dat daar nie dinge rondom jou is wat jou aandag kan aftrek nie. Kry ‘n area waar jy gemaklik kan leer, en waar jy nie jou gesin kan hoor of sien nie. Jou tafel moet net gebruik word vir leer en huiswerk. Baie kinders leer sommer by die eetkamer tafel, want dit is maklik en vinnig. Maar ongelukkig is die eetkamer gewoonlik in die middelpunt van die gesin se aktiwiteite. Daar is mense wat heen en weer loop, wat in die agtergrond praat, of daar is boeties of sussies wat saam by die tafel sit en leer. Om ‘n private leerarea te skep, is baie belangrik vir sukses in jou studies en skoolwerk. Jy moet altyd hardop leer, daarom is privaatheid ongelooflik belangrik.

2. Lig is belangrik

Moenie in ‘n area leer waar dit donker is nie. Beligting is baie belangrik. Leer naby ‘n venster of in ‘n vertrek waar daar goeie beligting is. Die beste is om van natuurlike lig gebruik te maak waar moontlik.

3. Vermy dinge wat jou aandag kan aftrek

Jou studeer area moenie op ‘n plek wees waar daar baie dinge is wat jou aandag kan aftrek nie. Sorg dat jou foon in ‘n ander vertrek is, en dat daar nie prente teen die muur of dinge in die vertrek is wat jou aandag kan aftrek nie. Maak ook seker dat jy in ‘n stil vertrek leer, of op ‘n plek waar daar nie geraas is wat jou aandag kan aftrek nie.

4. Maak dit gemaklik

Wanneer jy besig is om te leer, is dit belangrik dat jy gemaklik is. Dit beteken nie dat jy op jou bed of op die bank moet leer nie, maar eerder dat jy op ‘n gemaklike stoel sit en by ‘n tafel wat die regte hoogte is. Vir kinetiese leerders is dit belangrik om op ‘n stoel te sit wat kan beweeg, soos ‘n kantoorstoel.

5. Gebruik jou reuk sintuig

Wannneer jy leer, moet jy soveel as moontlik van al jou sintuie gebruik maak. Lavender, roosmaryn en peppermint olie kan jou help om rustig te wees en om beter te fokus terwyl jy leer. Voor jy gaan sit om te leer, smeer bietjie olie aan jou gewrigte. Studies het selfs gevind dat wanneer jy ‘n sekere reuk ruik wanneer jy ‘n spesifieke vak leer, daardie selfde reuk jou gaan help om die werk makliker te herroep tydens die eksamen.

6. Wees georganiseerd

Wanneer dinge om jou deurmekaar is, kan jou brein ook deurmekaar voel en langer vat om dinge te memoriseer. Maak seker jou leerarea is netjies en georganiseerd. Kry leêrs vir elke vak en maak seker jou opsommings is netjies geliaseer sodat jy dit maklik in die hande kan kry wanneer jy moet leer. Gebruik sekere kleure vir sekere vakke en hou al jou flitskaarte bymekaar. Wanneer jy klaar geleer het, ruim jou tafel op sodat jy reg is vir die volgende sessie.

7. Beplan jou tyd

Tydsbeplanning is sekerlik die belangrikste aspek wanneer jy sukses wil behaal in jou skoolwerk of studies. Beplan jou tyd so dat jou opsommings klaar is teen die tyd dat die eksamen begin. Opsommings moet sover moontlik, elke dag gedoen word. Eksamen tyd is daar om jou werk te memoriseer, nie om op te som nie. Stel vir jouself ‘n tydsrooster op en beplan wat jy elke dag gaan doen. Deel jou werk op in kleiner deeltjies en stel langtermyn en korttermyn doelwitte op.

8. Maak jou leerarea mooi

Jou leerarea moet ‘n stresvrye omgewing wees waar jy gemaklik kan leer sonder om gespanne te voel. Versier jou leerarea met kleure waarvan jy hou en gebruik houers om al jou penne en ander skryfbehoeftes netjies te bêre.

9. Gebruik “white noise”, eerder as musiek

Baie leerders hou daarvan om musiek te luister terwyl hulle leer, want hulle voel dat dit hulle help om te fokus. Musiek kan voordelig wees wanneer jy leer, maar dit kan ook baie maklik jou aandag aftrek, veral wanneer die persone sing. Jou brein is dan in twee gedeel. Een deel luister vir die lirieke van die musiek, en die ander deel probeer jou werk memoriseer. In plaas van musiek, speel eerder “white noise” in die agtergrond. Byvoorbeeld reën wat val, ‘n waterval, branders wat breek of enige iets anders wat rustig is. Dit gaan jou help om agtergrond geraas uit te blok en beter te fokus op jou skoolwerk.

10. Wissel dit af

Wanneer jy jou flitskaarte memoriseer vir die eksamen, is dit goed om buite in die tuin rond te loop terwyl jy leer. Die proses van beweging is baie goed, veral vir kinetiese leerders, en ‘n “change of scenery” gaan jou motiveer om aan te hou leer en jou werk beter te memoriseer.

Het jy hulp nodig met studiemetodes? Kontak ons by info@studiemetodes.co.za of kliek hier onder om jou plek te boek.

Shopping cart

1

Subtotal: R1575,00

View cartCheckout