graad 4

Is jou kind volgende jaar in graad 4? Hier is ‘n paar wenke

Graad 4 kan nogal senutergend wees.  Meer vir die ouers as vir die kinders.  As jy ‘n ouer is wat vir die eerste keer ‘n kind het wat graad 4 toe gaan, kan dit ‘n stresvolle ervaring wees.  Gaan my kind aanpas met al die nuwe vakke?  Gaan hy weet hoe om te leer vir die toetse en eksamen?  Hoe gaan klaswisseling my kind affekteer?  

Graad 4 is die perfekte tyd om die regte basis vir jou kind te lê in terme van sy skoolwerk.  As hy reeds in graad 4 leer hoe om reg te studeer volgens sy leerstyl, hoe om sy tyd te beplan ensovoorts, sal hy reg wees vir die res van sy skool- en Universiteitsloopbaan.  Die teenoorgestelde is ook waar.  Slegte gewoontes kan gou aangeleer word wat later in sy skoolloopbaan moeilik verander gaan word.  Hier is ‘n paar wenke vir ouers van graad 4 leerlinge:

Vermy stres en negatiewe gesprekke

Dit is baie stresvol om vir die eerste keer ‘n kind in graad 4 te hê.  Dit is net so onbekend vir jou as ouer, as wat dit vir jou kind is.  Ouers kan baie maklik stres oor dit wat graad 4 vir hulle kinders mag inhou.  Veral omdat kinders in graad 4 vir die eerste keer eksamen skryf.  Die probleem is dat hierdie stres en vrees oorgedra word na die graad 4 leerder toe.  Hy begin dan self te stres en raak angstig oor wat graad 4 vir hom mag inhou.  Dit kan sy punte en sy algemene skoolprestasie negatief beinvloed.  Praat positief voor jou kind en moenie van eksamen skryf ‘n groot ding maak waaroor hy hoef te stres nie.  

Leerstyl

Weet jy wat is jou kind se leerstyl?  Dit is baie belangrik dat ouers, en die kind self, sy of haar leerstyl ken en verstaan.  Sodoende gaan leer vinniger en meer effektief wees.  Om te leer volgens jou leerstyl help jou om beter te memoriseer en om die werk makliker te kan weergee en verstaan.  Wil jy weet wat is jou kind se leerstyl?  Woon  een van ons studiemetodes werkswinkel by.  Kliek hier om die verskillende opsies vir ons werkswinkels te sien. 

Tydsbeplanning

Soos wat kinders ouer word, raak die volumes werk net al hoe meer.  Daar is een manier om groot volumes werk te leer, en dit is deur tydsbeplanning.  As kinders  reeds vanaf graad 4 leer hoe om hulle tyd reg te beplan, gaan hulle nie in latere jare daarmee sukkel nie.  Maak genoeg tyd vir huiswerk en opsom, maar ook vir rus.  As opsommings reeds klaar is voor die aanvang van die eksamen, gaan die stres om alles geleer te kry vir die eksamen nie so groot wees nie. 

Doelwitte

Daar is net iets daaraan om ‘n doelwit te bereik of ‘n taak suksesvol te voltooi.  Dit gee mens ‘n gevoel van sukses en trots, maak nie saak hoe oud jy is nie.  Leer jou graad 4 kind van vroeg af reeds om doelwitte op te stel en te werk daarna om dit te bereik.  Doelwitte moet altyd realisties wees en moenie vir die graad 4 leerder voel of hy dit nooit sal kan bereik nie.  Iets eenvoudigs soos om al jou huiswerk klaar te maak, kan ‘n maklik bereikbare doelwit wees. 

Wees Voorbereid vir elke dag

Leer jou kind om reg voor te berei vir elke dag.  Wys hom hoe hy sy boeke moet pak volgens sy rooster en leer hom om altyd genoeg penne, potlode en ander benodighede by hom te hê.  Leer hom om sy huiswerk neer te skryf en dit af te merk wanneer hy dit klaar voltooi het.  Hierdie is belangrike gewoontes wat reeds van vroeg af gekweek moet word.  

Studiemetodes

Dit is ontsettend belangrik vir jou kind om van jongs af reeds die regte studiemetodes toe te pas.  As hy in graad 4 reeds leer hoe om reg te studeer en ook hoe om sy eie werk op te som en te memoriseer,  sal hy nie sukkel in hoër grade en op Universiteit nie.  Dit is belangrik dat hy sy eie opsommings maak, aangesien opsom deel van die leerproses is.  Moenie jou kind se werk vir hom opsom nie.  In graad 4 en graad 5 kan jy hom wel help en leiding gee, maar hoe gouer hy dit self kan doen, hoe beter.  Teen graad 6 moet hy op sy eie kan opsom en leer.  

Kontak ons vir hulp met studiemetodes.  Kliek hier vir ons beskikbare werkswinkels.

studie metodes werkswinkels


Shopping cart

1

Subtotal: R75,00

View cartCheckout