Kinders en Covid-19: Wat is die emosionele impak?

Covid-19 het ‘n impak op elkeen van ons, of ons dit nou wil erken of nie. Mense word siek, finansies is moeilik en ons kan nie kom en gaan soos ons wil nie. Dink terug aan jou skooldae. Mens onthou die sport, die sokkies, die kuier saam met vriende, die geesvang op die pawiljoen. Daardie dinge is nie net mooi herinneringe vir ons nie, maar dit het ook gehelp om ons emosioneel te laat groei, sosiale vaardighede te leer en om ons emosies te hanteer. Stel jou nou voor daardie dinge word in ‘n oogwink van jou weggeneem. Jy het gedroom om vir die eerste span te speel, maar nou is daar geen kontak sport nie. Jy wou sing in die koor of deelneem aan redenaars kompetisies, maar dis van jou af weggeneem. Sit daarmee saam ‘n samelewing waar mense siek word en sterf, waar grootmense stry oor of jy gaan oorleef met of sonder ‘n inenting en waar broodwinners hulle werk verloor.

Is ons kinders okay? Ons hoor dat kinders mekaar terg, spot en boelie en dat Covid vrees by ander geskep word. Dat kinders baklei en vir mekaar skree dat hulle ma of pa gaan doodgaan aan Covid. Dit skep vrees, angs en woede by kinders. Wat AS pappa iets oorkom? Wat AS mamma siek word en sterf? Ouers vertel ons dat hulle kinders gefrustreerd raak en woede uitbarstings het. Of stil raak en in hulle dop kruip. Sekere kinders wat Covid-19 gehad het ontwikkel depressie en sommiges kry angsaanvalle omdat hulle vrees dat hulle nie asem kry nie. Die impak daarvan is groot op die geestesgesondheid van die kinders. En dit het op die ou einde ‘n impak op hulle skoolwerk en motivering.

studie metodes werkswinkels

In ‘n onlangse studie wat gedoen is met 359 kinders and 3254 tieners tussen die ouderdomme van 7 en 18, is die volgende bevind:

  • Depressie en angs kom sterk voor onder kinders van alle ouderdomme as gevolg van sosisale isolasie en die vrees om uit te mis (in Engels: Fear of Missing Out);
  • Kinders voel eensaam en geisoleerd;
  • Sommige kinders sukkel met konsentrasie, raak makliker verveeld en is meer angstig;
  • In die studie is bevind dat ouers ervaar hulle kinders is meer geirriteerd, rusteloos en raak makliker gestres;
  • Vir kinders wat voorheen sosiale angs gehad het, is die isolasie tydens lockdown meer positief ervaar.

Invloed op kinders se skoolwerk

Tydens ons studiemetodes werkswinkels het ons ‘n paar dinge agtergekom rakende die leerders en Covid-19:

  • Ekstroverte het gesukkel met die aanlyn klasse en het die sosiale interaksie van skool gemis;
  • Meeste kinders het gesukkel met die aanlyn wiskunde klasse en hul wiskunde punte het gedaal. Heelwat kinders het genoem dat hulle selfvertroue met wiskunde baie afgeneem het;
  • Motivering vir leer het oor die algemeen baie afgeneem. Sommige kinders is bekommerd oor hulle toekoms en of hulle ooit weer normaal sal kan lewe;
  • Die meeste kinders het genoem dat hulle nie ‘n probleem het om die maskers te dra nie en kon maklik daarby aanpas. Behalwe kinders wat voorheen aan angstigheid gely het.

Wenke om kinders se frustrasie minder te maak:

  • Kry ‘n slaan sak en laat hulle dit slaan wanneer hulle gefrustreerd voel;
  • Maak balonne vol water en gooi dit teen die muur stukkend;
  • Blaas balonne op en slaan dit vir mekaar (soos tennis);
  • Laat jonger kinders teken, inkleur of met klei speel. Gesels met hulle en gee hulle die geleentheid om te deel wat hulle op die hart het;

Die heel belangrikste om te onthou is dat elkeen van ons op een of ander wyse deur Covid geraak word, en dat kinders nie hierdie frustrasies vryspring nie. As jy sien jou kind kry swaar en is baie depressief of angstig, is dit belangrik om hom of haar na ‘n spelterapeut te neem vir hulp. As jou kind hulp nodig het met leer, motivering of studiemetodes, kontak ons gerus by info@studiemetodes.co.za.

Shopping cart

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping