studie metodes

My een kind leer hard, maar my ander kind wil net nie leer nie. Wat nou?

Indien jy ‘n ouer van meer as een kind is, is die kanse baie goed dat jou kinders hemelsbreed verskil wanneer dit kom by skoolwerk en leer.  Elke gesin het gewoonlik ‘n harde werkertjie wat hul tyd goed benut en nooit probleme gee wanneer dit kom by skoolwerk nie.  Maar die teenoorgestelde is ook in baie gevalle waar.  Daar is menig maal ‘n boetie of sussie wat nie so lekker wil saamwerk as dit by leer en skoolwerk kom nie.  Waar hardwerkende boetie of sussie sal huiswerk doen en op datum bly met toetse, sal ander boetie of sussie wat minder hardwerkend is, so min as moontlik doen as dit kom by skoolwerk.  

Stel jou voor dis eksamen tyd.  Ousus kom by die huis.  Haal haar boeke uit en begin leer.  Haar werk is netjies uiteengesit en sy kan dadelik aan die werk spring.  Na 45 minute staan sy op en vat ‘n 15 minute breuk voor sy weer begin leer.  So gaan sy aan totdat sy haar werk goed genoeg ken om te gaan toets skryf die volgende dag.

Nou is dit  kleinsus se beurt.  Sy kom by die huis en sak op die bank neer.  Ma smeek dat sy moet gaan leer, maar sy antwoord dat sy net ‘n bietjie wil rus voor sy begin.  3 ure en 6 gevegte tussen ma en kind later, staan sy uiteindelik op en gaan leer.  10 minute gaan verby en daar gaan sussie se deur oop.  Sy het nou klaar geleer en vat gou ‘n breuk.  Met ‘n groot stryd kry ma haar terug voor haar boeke en waarsku haar dat sy haar gaan vra wanneer sy ‘n breuk vat.  ‘n Uur later kom kleinsus uit en ma begin vrae  vra oor die werk.  Teen die derde vraag waar kleinsus die antwoord uit haar duim probeer suig kom ma agter dat sy nie rerig geleer het soos sy moes nie.  Dit ontaard in huismoles en almal is in trane.  Klink dit bekend?

Dis dikwels vir ouers moeilik om te verstaan hoekom een kind so maklik saamwerk, terwyl die ander een net nie aan die gang kom nie.  

Omdat kinders verskil en elkeen sy unieke persoonlikheid het, is daar nie ‘n wit en swart manier hoe elke kind moet leer nie.  Saam met die verskillende persoonlikhede, het elkeen ook ‘n ander leerstyl wat in ag geneem moet word.  ‘n Kinetiese leerder gaan beslis nie op dieselfde manier leer as ‘n visuele leerder nie!

Hoe hanteer ek dit as my een kind hardwerkend is, maar die ander een nie?

  1. Moenie vergelyk nie.  Soms sê mens klein goedjies sonder om te dink.  Ouers sal binne hoorafstand sê dat Jannie so maklik leer, maar Pietie sukkel met die skoolwerk.  Of dat Pietie meer sportief is terwyl Jannie die akademiese ster is.  Hoe meer Pietie hierdie woorde hoor, hoe makliker gaan hy begin glo dat hy die dom een is en boetie die slim een.  Sy motivering gaan daal want as hy al klaar die dom een is, hoekom moet hy hard werk?  Wees dus versigtig wat jy binne hoorafstand van jou kinders sê.  Vir jou klink dit onskuldig, maar dit impakteer hulle lewenslank.  
  2. Bepaal hulle leerstyl. Daar bestaan drie primêre leerstyle, naamlik visueel, ouditief en kineties/taktiel.  Elke leerstyl het sekere belangrike eienskappe wat bepaal hoe die leerder moet studeer.  Dis belangrik om jou kind se leerstyl te ken en hom te lei om reg te studeer volgens sy leerstyl.  Dis ook belangrik om jou kind se leerstyl te verstaan en nie jou leerstyl op hom of haar af te dwing nie.  
  3. Stel doelwitte en gebruik belonings.  Stel saam met jou kind doelwitte op en bepaal watter belonings hulle kan kry wanneer hulle die doelwitte bereik. 
  4. Stel ‘n studierooster op. Tydsbeplanning is een van die grootste uitdagings wat kinders ervaar wanneer hulle moet leer.  Nie elke kind het die vermoë om outomaties hulle tyd ten volle te benut nie.  Stel saam met jou kind ‘n studierooster op en laat hom toe om insette te lewer.  Later gaan hy dit self kan doen en sy tyd optimaal benut.  
  5. Fokus op elkeen se sterkpunte. Elkeen van jou kinders het sterk punte en elkeen het swak punte.  Dit is belangrik om op elkeen se sterk punte te fokus en om jou kind te lei om daardie sterk punte te gebruik om sy skoolprestasie te verbeter.  
  6. Aanvaar en omhels die uniekheid van elkeen.  Laat jou kind voel hy word liefgehê en aanvaar, maak nie saak wat nie.  Lei hom om sy uniekheid te gebruik om sukses te bepaal.  
Studie Metodes

Shopping cart

0
image/svg+xml

No products in the cart.

Continue Shopping