Vrees en onsekerheid kan ‘n baie negatiewe impak op jou kind se skool prestasie hê. Konsentrasie probleme kan ontstaan omdat hy sukkel om te fokus op sy skoolwerk. Sommige kinders wil die huidige realiteit ontsnap en verloor hulleself in tv programme, video speletjies, boeke of hulle verbeeldingswêreld. Hulle kan voel dat dit nie die moeite werd is om aandag aan skoolwerk te gee nie, want daar is groter probleme in die wêreld. Wat as die lockdown weer strenger word? Wat as ons almal siek word en hospitaal toe gaan? Wat as dit die einde van die wêreld is soos wat sommige mense voorspel?
Kinders wat voorheen stil en rustig was, kan skielik aggressiewe gedrag in die klas of by die huis openbaar. As jou kind se gedrag skielik verander, is dit belangrik om ‘n spelterapeut te gaan sien want op die lang duur kan hy emosionele en skolastiese probleme ontwikkel.
Die grootse probleem wat die Covid-19 pandemie skep onder baie grootmense en kinders, is die gebrek aan motivering. Hierdie gebrek aan motivering kan ‘n baie negatiewe impak op jou kind se skoolwerk hê. Dit is daarom baie belangrik dat ons as ouers versigtig wees wat ons sê rondom ons kinders. Ons almal weet dit is swaar tye en die hele wêreld is in ‘n stryd. Maar maak seker dat jou kind weet dat daar hoop is midde die pandemie. Dat hy weet dat hy steeds hard moet werk want daar wag ‘n blink toekoms op hom. Maak seker hy het die lewensvaardighede om die stres en onsekerheid te hanteer. Praat oor dinge wat hom pla en werk saam daaraan om die goeie in elke slegte situasie te sien.
Dinge gaan beter word en daar is hoop vir jonk en oud.